Editor's choiceLocal newsNews

Komberse met ‘n tikkie warmte en liefde

Armand du Plessis, 'n Mnr Suid-Afrika finalis het 71 komberse van Kenmare Kleuterskool ontvang.

Verskeie mense sal hierdie winter ‘n klein bietjie warmer wees danksy die hulp van die gemeenskap.

Armand du Plessis, ‘n Mnr Suid-Afrika finalis van Krugersdorp het onlangs 71 komberse van die kleuters by die Kenmare Kleuterskool in Waterfordweg ontvang wat hy daarna aan verskillende instansies oorhandig het.

Die inwoners van die Krugersdorp Heilsleër, Cradle of Hope, Zandspruit informele nedersetting en die Moria Tehuis in Monument is met komberse bederf.

Du Plessis sê hy het die kleuterskool genader en hulle was meer as bereid om hom met sy kombersprojek te help.

“Dit is lekker om iets aan die gemeenskap terug te gee, maar dit is nog meer verblydend wanneer ek soveel liefde en toewyding sien by almal wat betrokke wil wees. Dit maak my trots om te kan sê ek is van die Wes-Rand.”

Om komberse in te samel vorm deel van die projekte wat hy regdeur die jaar moet doen om genoeg punte te kry om na die volgende rondte van die Mnr Suid-Afrika kompetisie bevorder te word.

“Hierdie tel sowat 20 persent van die finale stem. Ons as finaliste behoort teen die einde van Julie te weet wie die oorblywende 25 finaliste is.”

Du Plessis sê sy senuwees knaag, maar hy glo hy is steeds ‘n sterk teenstander in die kompetisie.

“Ek wil graag almal bedank wat my tot dusver bygestaan het. As ek op my gemeenskap se knoppie druk is hulle altyd bereid om my te help. Daarom kan ek met eerlikheid sê ek kon nie vir ‘n beter gemeenskap en ondersteuning gevra het nie.”

Om Du Plessis te help om na die volgende rondte deur te dring kan daar steeds vir hom gestem word deur die woord MRSA 008 na 47439 te SMS. Elke SMS kos R3.

Back to top button