Local newsNews

Herwinning maak stuk-stuk ‘n verskil

Die eienaar van 'n herwinningsfabriek wou al die onderneming verlaat, maar die verandering wat dit in mense se lewens bring verhoed dat hy dit doen.

‘n Herwinningsfabriek in Von Brandisstraat fokus daarop om mense se lewens stuk vir stuk aanmekaar te hou.

“Hulle werk hard omdat hulle weet wat hulle insit sal hulle uitkry – hulle is streng gesproke onafhanklike besigheidseienaars” — Albert van der Berg, eienaar van die Paper Waste Man.

Albert van der Berg, eienaar van die Paper Waste Man wat al vir 13 jaar in die dorp sake doen, sê hy het al daaraan gedink om die onderneming vaarwel toe te roep, maar hy glo dit is die plek waar die Here hom wil hê.

“As ek die verskil in die lewens sien van die mense wat hierheen kom dan weet ek, ek is op die regte plek.”

Hy sê daar kom daagliks meer as 50 klante by sy fabriek aan om hulle herwinbare produkte te verkoop. Dit laat hom goed voel om te weet hierdie mense werk hard om kos op die tafel te hou.

“Baie mense kla omdat hulle in asblikke grou en met hulle trollies straataf loop, maar mense moet eintlik dankbaar wees dat hulle nie langs die pad staan en bedel of ‘n lewe uit misdaad maak nie.”

Van der Berg sê dié mense se werk begin elke dag nog voordat die son sy kop uitsteek.

Kate Rasebopela en Suzan Sikowe werk al jare by die herwinningsfabriek waar hulle die verskillende soorte materiaal sorteer en bymekaarsit.
Kate Rasebopela en Suzan Sikowe werk al jare by die herwinningsfabriek waar hulle die verskillende soorte materiaal sorteer en bymekaarsit.

“Hulle werk hard omdat hulle weet wat hulle insit sal hulle uitkry – hulle is streng gesproke onafhanklike besigheidseienaars.”

Hy verduidelik dat die herwinningsbedryf, veral in Krugersdorp, baie suksesvol is.

“Hier is baie herwinningsgeleenthede en baie mense trek voordeel daaruit. Hier is mense wat ‘n baie goeie daaglikse loon verdien, terwyl daar weer ander is wat herwinbare materiaal bring as ‘n manier om aan die lewe te bly.”

Hy het tans dertien werknemers by sy fabriek in diens.

Kate Rasebopela en Suzan Sikowe werk al jare by die herwinningsfabriek waar hulle die verskillende soorte materiaal sorteer en bymekaarsit. Albei sê hulle geniet hulle werk baie.

Van der Berg sê hy herwin self alles moontlik in sy huis en stel ‘n goeie voorbeeld vir sy kinders wat eendag na die wêreld moet omsien.

“Omtrent 80 persent van ‘n mens se huishoudelike afval is herwinbaar daarom het ek verskeie houers in die huis waarin ons dit plaas.”

Mense is welkom om enigiets wat herwinbaar is na die Paper Waste Man te bring. Dit sluit gebruikte voertuigolie, plastiek, papier, karton, blikkies en glas in.

“So probeer ons ook die omgewing skoonhou en die natuur help, want met elke ton papier wat ons ontvang, bly 17 bome behoue.”

Van der Berg versoek die gemeenskap, inluitende besighede, om hulle omgewing in ag te neem en by herwinning betrokke te raak.

“Ek het voertuie waarmee ek die materiaal kan oplaai en ek het houers wat mense kan leen om herwinbare materiaal in te plaas.”

Omdat sy herwinningsfabriek ‘n agent vir die herwinningsreuse Nampak, Moni en Sappi is, word die materiaal daagliks na hulle toe vervoer om te verseker dat daar altyd plek vir nuwe herwinningmateriaal by sy fabriek is.

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak kan Van der Berg gedurende kantoorure by 011 762 1167 gekontak word.

Back to top button