Local newsNews

Tragiese toneel na vier in Kromdraai sterf

Voertuig trek deur die lug en beland op sy dak teen die oewer van die Honingklipspruit.

“Die prentjie wat vir ons gewag het was beslis nié een wat ons graag wou sien nie.”

Só sê Trevor Roberts, eienaar van Conserv Sekuriteit nadat vier mense gister 30 Maart in ‘n ongeluk naby die T3 in Kromdraai omgekom het.

‘n Vyfde persoon, glo in sy twintigs, is in ‘n ernstige toestand per helikopter na die Chris Hani Baragwanath Hospitaal vervoer waar hy verdere mediese behandeling ontvang.

“Ons lede is dadelik uit na die toneel toe ons ‘n oproep teen 2.50nm ontvang het.”

Daar het sy span, wat twee vrywillige paramedici insluit, op die tragiese toneel afgekom.

“Dit kom voor of die bestuurder teen ‘n spoed gery het en toe beheer oor die motor verloor het,” vertel Roberts.

Die voertuig, ‘n groen Honda, sê Roberts moes deur die lug getrek het om op sy dak by die Honingklipspruit se oewer langs die T3 tot stilstand te kom.

Hy sê dat hy saam met die gemeenskap van dié omgewing dadelik bystand verleen het, die pad afgesper het en voertuie herlei het totdat die polisie en nooddienste op die toneel opgedaag het.

Werner Vermaak, ‘n woordvoerder van ER24 ambulansdienste sê toe hulle op die toneel opdaag, het omstanders aan hulle gewys waar die voertuig is.

“Hulle het aan paramedici verduidelik dat die voertuig ‘n paar keer gerol het en toe op sy dak in die spruit beland het. Die omstanders het toe die voertuig terug op sy wiele geplaas en al die insittendes uit die voertuig gehaal.”

Hy sê met hulle aankoms was vier mense toe reeds dood.

Roberts sê dat hulle en ‘n insleepdiens teen 9nm gisteraand nog gespartel het om die voertuig uit die spruit te haal, maar sal vandag (31 Maart) voort gaan hiermee.

Hy sê dat hierdie ongeluk nie die eerste een is op hierdie pad in die omgewing nie.

“Mense wat hier bestuur is baie onverantwoordelik. Hulle hou nie by die padreëls nie en verontagsaam die spoedbeperkings.”
Hy sê dat mense gereeld hier jaag.

“Ek dink hulle gebruik die kans onverantwoordelik. Hulle reken dalk omdat dit die platteland is en die paaie oop is kan hulle ry nes hulle wil.”

Roberts meen dat dit die rede is waarom daar gereeld ongelukke in Kromdraai is.

“Daar is veral baie motorfietsongelukke. Daar is maklik elke tweede tot derde week ‘n ongeluk en ek dink dit is omdat daar net nie meer respek vir die pad en sy reëls is nie – dit is die hartseer realiteit van ons Suid-Afrikaanse padgebruikers.”

Hy sê dat Conserv ook al op ‘n gereelde basis aan fietsryers bystand moes verleen omdat hulle in ongelukke betrokke is.

“Meeste van dié ongelukke vind plaas omdat die fietsryers nie in ‘n streep agter mekaar ry nie, maar langs mekaar.”

Back to top button