Local newsNews

Gevaarligte flikker oor ongelukke in Robert Broom

Inwoners van Rant-en-Dal is nou moeg dat eiendomme en lewens in die slag bly omdat Robert Broomrylaan se spoedbeperkings nie nagekom word nie.

Inwoners van Rant-en-Dal en omgewing sê hulle is nou keelvol vir die ongelukke wat gereeld in Robert Broomrylaan plaasvind en voel dat dié pad beveilig behoort te word. Dit volg na ‘n rits ongelukke die afgelope tyd.

In die jongste voorval is ‘n ma en seun ernstig beseer toe sy beheer oor die voertuig verloor het en in ‘n boom vasgery het.

The wreck of a black Peugeot vehicle after it had crashed with a tree on Robert Broom Drive in Rant-en-Dal.
Die wrak van ‘n swart Peugeot na dit met ‘n boom op Robert Broomrylaan in Rant-en-Dal gebots het.

Die NUUS het intussen verneem dat Cayden Senekal (4) as gevolg van sy beserings gesterf het en dat sy ma Marizel steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal is.

Coen en Alta Vermaak, wat op die hoek van Robert Broomrylaan en Strubenlaan woon, sê hulle versekeringsmaatskappy moes sedert Januarie verlede jaar reeds sowat R324 000 aan eise uitbetaal omdat hulle eiendom gereeld as gevolg van padongelukke beskadig word.

Vyf daarvan, waarvan vier grootskaalse skade aangerig het, is van Januarie 2013 tot Maart hierdie jaar aangeteken.

In Maart verlede jaar het ‘n Toyota Fortuner regdeur die Vermaaks se palissadeheining tot in hul kantoor op hulle eiendom gebars.

Wegsleepdienste, paramedici, ambulanspersoneel en nuuskieriges was op die toneel nadat 'n Toyota Fortuner deur 'n huis op die hoek van Robert Broom Rylaan en Strubenlaan in Maart 2013 in Rant-en-Dal gebars het.
Wegsleepdienste, paramedici, ambulanspersoneel en nuuskieriges was op die toneel nadat ‘n Toyota Fortuner deur ‘n huis op die hoek van Robert Broom Rylaan en Strubenlaan in Maart 2013 in Rant-en-Dal gebars het.

“Dit is net met die genade van die Here dat niemand van ons seergekry het nie,” het Coen verlede jaar aan die NUUS vertel.

“Ons was net uit die vertrek nadat ons die rekenaar afgeskakel het toe ons ‘n helse slag hoor.”

Nou vrees hulle dat ‘n soortgelyke ongeluk kan plaasvind.

“Buiten hierdie ongeluk het nog twee voertuie regdeur ons heining gebars en die huis en kantoor rakelings gemis.”

Alta verduidelik dat die grasperk langs die heining haar kinders se enigste speelplek in die erf is.

“Ek is te bang om hulle daar te laat speel, want ‘n mens weet nooit wanneer nog ‘n ongeluk gaan gebeur nie.”

Intussen is die Vermaaks besig om die palissadeheining en ‘n gedeelte van ‘n muur te laat regmaak.

Tydens Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum se maandelikse vergadering het verskeie inwoners ook hulle stem dik gemaak en self met ‘n paar oplossings vorendag gekom wat hulle aan Brenda Mathlaga, ‘n Openbare Veiligheidsbeampte voorgelê het.

Lede van die gemeenskap het hulle misnoeë met Robert Broomrylaan tydens die maandelikse Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum vergadering te kenne gegee.
Lede van die gemeenskap het hulle misnoeë met Robert Broomrylaan tydens die maandelikse Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum vergadering te kenne gegee.

Van die voorstelle is om ‘n spoedhobbel voor Robert Broomrylaan en Strubenlaan op te rig en ‘n vierrigtingstop daar aan te bring sodat dit jaagduiwels kan stuit.

Ander reken weer dat verkeersligte met ‘n permanente spoedkamera en ‘n bordjie wat ‘n draai in die pad aandui, opgerig behoort te word.

“Sodra mense weet daar is ‘n kamera voor, dan verminder hulle spoed,” het ‘n inwoner genoem.

Die straatligte wat buite werking is, is weer vir ander inwoners ‘n kopseer omdat hulle reken motoriste kan nie die draai in die pad in die donker sien nie.

Die hoek van Cecil Knightstraat en Robert Broomrylaan sê inwoners is in spitsverkeer soggens en saans ook ‘n probleem omdat motoriste nie die padreëls nakom nie.

“Die motoriste gee ander mense nie ‘n kans nie; drie tot vier ry tegelyk oor.”

Wat stel u as leser voor as oplossing om hierdie gevaarlike pad te beveilig? Lewer gerus kommentaar onder aan die storie op ons webwerf by www.krugersdorpnews.co.za.

3 Comments

  1. Visible policing in terms of moving violations need to be implemented. In Kdp people have little regard for stop signs, traffic lights and one ways. One day I physically went to the traffic dept to report people parking facing the wrong way in a one way street (the only way to do that is to drive up a one wayy and two hours later there was still no sign of law enforcement. Pro-active action from the traffic police, as well as the community, needs to be a given. Speed is NOT the only policeable offense on our roads!

  2. Ek is n ou Krugersdorper,en ek weet dat mense altyd op Robert Broom jaag en weet nie waarom om so te jaag nie. Die spoed grens is 80 kph en veral om n skerp draai kan n kar maklik buite beheer raak as dit reen. Ek ry baie op Robert Broom as ek Kreursdorp toe kom. Ek sien hoe swaar voertuie om daai draaie jaag en dan is dit gelaai met n vrag . Al wat gaan werk is daai groen verkeers kamera boks. Min mense weet dat daai groen boks n verkeers kamera is. Mag hulle betaal vir hul oortredings.

  3. Net soos die Vermaaks is ons ook gatvol vir die jaagduiwels op Robertbroom Rylaan, ek bly al 35jr. op die hoek van Robertbroom en Eerste Straat en het al baie ongelukke waargeneem net op my interseksie. 100m van my huis is n groot park erf, niemand gebruik hierdie park nie omdat almal te bang is om Robertbroom Rylaan te kruis. My oplossing tot die Robertbroom ongelukke asook die geraas besoedeling is die volgende: 1)Verminder spoedgrens na 60km/h (jy mag in elk geval nie 60km/h oorskry in n woonbuurt nie) 2)Plaas spoed hobels voor en na elke interseksie. 3) Deur noukeurige beplanning kan elke interseksie ook verder omskep word in n draai sirkel, met ander woorde die motoris sal spoed moet verminder agv die spoedhobbels die draaisirkel sal verkeer vanaf die systrate n veilige kans bied om Robertbroom Rylaan te kruis. Ek is oortuig dat hierdie veranderinge nie net die ongelukke sal verminder nie maar ook die geraas van die motors sal beheer.

Back to top button