Local newsNews

Man verdrink terwyl vriende foto’s neem

Versoeningsdag (16 Desember) het in 'n tragedie ontaard toe 'n man in sy twintigs in Kroningsdam in Krugersdorp verdrink het

Familielede en vriende van ‘n man wat gister op Versoeningsdag (16 Desember) in die Kroningsdam verdrink het, het geskok toegekyk toe hy net na die etensuur op 17 Desember deur die polisie se duikeenheid uitgehaal is.

Inligting wat die NUUS van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ontvang het, dui aan dat die man, wat in sy twintigs is, saam met vriende gekuier het toe die ongeluk gebeur het.

Choert Maartens, die woordvoerder van Sektor 4 sê die man is omstreeks 9nm by die dam in en daar is foto’s van hom geneem voordat hy onder die water verdwyn het.

Polisieduikers is gisteraand ontbied, maar omdat dit reeds donker was het dit hulle werk bemoeilik. Hulle is vanoggend (17 Desember) terug om na hom te soek.

Verskeie nuuskieriges en lede van sy familie het by die dam rondgestaan terwyl lede van die Binnelandse Waterpolisie en Duikeenheid na hom gesoek het.

Die oorledene se lyk is teen 12.20nm deur die duikers uit die water gehaal en die familie wat hom as hulle geliefde uitgeken het, het in trane uitgebars.

Konstabel Tshepiso Mahale, woordvoerder van die Krugersdorp Polisiestasie sê sy sal ‘n verklaring uitreik sodra sy al die inligting het.

Dit is die tweede verdrinking in die Kroningsdam vanjaar. In Maart het twee mans die polisie ingelig toe hulle die liggaam van ‘n man in die dam sien dryf het.

Vir meer foto’s sien hier:

Grafiese materiaal: Man verdrink by Kroningsdam

Back to top button