Local newsNews

Oorloghelde met papawers herdenk

Papawers is op die grafte geplaas van diegene wat gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het en in die Burgershoop-begraafplaas begrawe is.

“Julle is nie vergete nie!”

Só sê Ryno Human (25) nadat hy en ‘n vriendin Bonita van Gerven (21), albei inwoners van Witpoortjie in Roodepoort, op 10 November in die Burgershoop-begraafplaas papawers op die grafte geplaas het van diegene wat gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het.

Dit was deel van die Herdenkingsdag wat elke jaar op die Sondag die naaste aan 11 November plaasvind.

Human, wat baie belangstel in monumente en die storie wat elkeen het om te vertel, sê die papawers is op die grafte neergelê omdat dit internasionaal die blom geword het om gesneuweldes van veral die Eerste Wêreldoorlog te herdenk.

“Dit was die eerste blom wat die Britse magte gesien het toe hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog in Vlaandere geland het. Die papawers het in ‘n omgewing geblom wat deur die Duitse magte se bomskerwe en geweerkoeëls omgedolwe is. Die saadjies het weer lug gekry om te ontkiem.”

Die gesneuweldes, insluitend Suid-Afrikaanse soldate, is tussen dié papawers begrawe. Op 11 November 1918 om 11vm is die oorlog beëindig toe die laaste kanonskoot afgevuur is, daarom word die soldate die Sondag die naaste aan dié dag onthou.

Wat Human egter van die Burgershoop-begraafplaas ontstel het, was die feit dat dit so gevandaliseer word.

“Ek was geskok toe ek die skade aan die Boere-oorloggrafte sien. Dit is die afgelope jaar beslis baie meer beskadig.”

Hy sê dit is ironies dat ‘n plek wat reeds met hartseer verbind word, nog meer hartseer kan wees.

“‘n Mens moet respek vir die gesneuweldes toon, want hulle het ‘n verskil in ons land gemaak. Wanneer ek na die grafstene kyk en die boodskappe daarop lees, kry ek sommer trane in my oë.”

Hy voel dat die Krugersdorp-gemeenskap die begraafplaas se geskiedenis moet bewaar en ook ‘n bydrae lewer om dit in stand en skoon te hou omdat die meeste van die mense se naasbestaandes reeds self dood is.

“Baie van die mense wat hier begrawe is, het dalk nie naasbestaandes nie of hulle bly elders in die wêreld,” sê hy met verwysing na veral die soldate van Brittanje wat daar begrawe is.

“Ek het ‘n ruk gelede ‘n berig in die koerant gelees oor lede van die Pretoria-gemeenskap wat self die Helde Akker gaan reg- en skoonmaak het.”

Human dink dat die Burgershoop-begraafplaas ‘n toeriste-aantreklikheid kan wees en dat die gemeenskap, skole en sakelui kan help om die begraafplaas in stand te hou.

“As selfs net dertig mense die begraafplaas oor ‘n naweek kom skoonmaak, sal dit reeds ‘n verbetering wees.”

Hy sê skole kan daaruit voordeel trek omdat daar baie uit die grafte geleer kan word.

Soortgelyke projekte kan aangepak word om ander geskiedkundige bakens in Krugersdorp te herstel.”

Intussen het hy ook die toestand van die begraafplaas by die Statebond se Kommissie vir Oorlogsgrafte aangemeld wat hom laat weet het dat hulle nie die nodige bronne het om die grafte gereeld te besoek nie. Hulle besoek glo die oorlogsgrafte elke drie jaar en doen herstelwerk waar nodig.

Vir meer inligting oor Human se projek kan hy op facebook en twitter onder die naam Remember Us SA gevolg word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button