Editor's choiceLocal newsNews

R24: Padgebruikers maak dit die pad van die dood

Die NUUS bekyk toestande by die R24.

In die lig van die aantal ongelukke wat gereeld op die R24 (Albertina Sisuluweg) plaasvind, het die NUUS besluit om ondersoek in te stel om eerstehands te ervaar wat moontlik die oorsake daarvan kan wees.

Verskeie bevindings, waarvan sommige op kamera vasgelê is, is gemaak toe die NUUS vir ‘n week lank padgebruikers en die Mogale City Verkeersdepartement langs dié pad dopgehou het.

Op die destydse Hoofrifweg, Paardekraalrylaan en Rustenburgweg jaag motoriste maklik tussen 80- en 100km/h. Op die gedeelte van die pad vanaf Mindalore tot net voor die Krugersdorp Wildtuin, ‘n afstand van sowat 9km, is die spoedbeperking 60km per uur en wissel eers tussen 80-, 100- en 60km/h op die R24 Tarltonpad.

Op hierdie gedeelte van die pad is daar gereeld verkeersbeamptes met kameras en word padblokkades gehou, maar selfs dit is nie genoeg om jaagduiwels af te skrik nie.

In ‘n afsonderlike voorval het ‘n motoris sonder nommerplate verbygejaag.

Motoriste ry gereeld oor geel eilande om veral in spitsverkeer voor ander padgebruikers in te druk en dit hou ‘n gevaar vir ander padgebruikers in.

Die NUUS het besluit om na 5nm in spitsverkeer tot in Tarlton te ry en te kyk of motoriste, vragmotor- en taxibestuurders die padreëls gehoorsaam.

Daar is voor die Dude’s Pub and Grill stilgehou terwyl dit vir sowat 15 minute lank gereën het. Twee mense het vroeër vanjaar daar met hulle lewens geboet.

Die reën was genoeg om die rooi grond wat aan weerskante van die pad gegooi is sag te maak en ‘n gevaar vir motoriste in te hou wat by besighede, wonings of by ander paaie wil indraai.

Chris Scheepers, eienaar van Dude’s Pub and Grill sê daar is padverbruikers wat glad nie spoed verminder wanneer ‘n ander gebruiker uit die pad wil draai nie.

“Jy word gedwing om op die grond langs die pad te ry en as dit soos nou gereën het, is daardie grond klam en maak toestande gevaarlik. Dit kan ook die voertuig erg beskadig.”

Hy sê dit is sleg vir sy besigheid wanneer voornemende klante nie by sy perseel kan inry nie en dan eerder elders gaan kuier.

“Dit word nie verniet die pad van die dood genoem nie. Hier gebeur gereeld ongelukke op die R24,” sê hy.

“Ek glo as die pad breër gemaak word, sal dit die probleem baie verminder, want spoedhobbels in die pad sal nie die probleem oplos nie,” sê Scheepers en verwys na die spoedhobbels wat in die 60km/h-sone oorkant die plakkerskamp en winkels geplaas is.

Sy besigheid is in ‘n 100km/h-sone en hy voel dat hierdie spoedbeperking nie in ‘n woon- of sakegebied moet geld nie.

Hy sê dat taxibestuurders ook die neiging het om skielik langs die paaie stil te hou en dit het al tot talle ongelukke gelei. Die NUUS het taxibestuurders afgeneem wat oortree het.

Die volgende is onder andere op die R24 opgemerk:

• Verskeie padgebruikers het teen skemer nog nie hulle hoofligte aangeskakel nie en daar was selfs motors waarvan net die een hooflig werk. Een motoris het met sy parkeerligte aan gery.

• Fietsryers ry sonder enige beskerming en het ook nie weerkaatsende klere aan nie.

• Daar was verskeie gevalle waar veral motoriste en taxibestuurders ander voertuie soos vragmotors verbysteek terwyl daar aankomende verkeer is. Van hulle is rakelings by die ander voertuie verby, terwyl ander voertuie van die pad moet afry om ‘n botsing te voorkom.

Back to top button