Local newsNews

Huwelik gaan van krag tot krag

Die Naudé-egpaar vier hulle 43ste huweliksherdenking.

In die amper tien jaar sedert Jakkie en Trudie Naudé hulle in Krugersdorp kom vestig het, het hulle verskeie lewens aangeraak.

Trudie wat al talle kinderharte met haar sopkombuis verbly het en Jakkie wat as raadslid na munisipale probleme omsien, het op 24 Oktober ‘n persoonlike mylpaal bereik toe hulle hul 43ste huweliksherdenking gevier het.

Alhoewel hulle nou op foto’s baie gelukkig lyk, sê hulle dat hulle huwelik nie altyd maanskyn en rose was nie.

“Ons huwelik het al baie stormagtige oomblikke gehad, maar gelukkig is dit nou iets van die verlede,” merk Trudie op.

“Hierdie tydperk in my lewe is die beste wat ek nog gehad het.”

Hulle het mekaar op 21 Februarie 1970 ontmoet.

Jakkie, toe ‘n sersant van Erasmia in Pretoria het Trudie en haar niggie Petro in sy 1964 Volkswagen Kewertjie na ‘n dansgeselligheid geneem en hy wou eintlik met Petro dans.

“Ek hou verskriklik baie van dans en kry toe die geleentheid om met Trudie te dans, maar sy het twee linkervoete.”

Trudie knik net haar kop om te wys dat sy saamstem.

“Ek verseker haar toe dat dit nie so erg is nie en dat ek die leiding sal neem en sy net moet volg.”

Toe iemand anders daardie aand vir Petro vra om uit te gaan, vra Jakkie toe vir Trudie om met hom uit te gaan.

Op 24 Mei, drie maande later het Jakkie vir Trudie om haar hand gevra en hulle het verloof geraak. Hulle het destyds in Newcastle in die destydse Natal gewoon. Die volgende dag moes Jakkie grens toe en hulle leer mekaar beter ken deur briewe aan mekaar te skryf.

Op 24 Oktober het hulle die knoop deurgehaak en vir ses van die eerste tien jaar van hulle huwelik sou Trudie alleen by die huis wees, want Jakkie was gereeld op die grens voordat hy na Kroonstad toe oorgeplaas is waar hulle agt jaar lank gewoon het.

Gedurende daardie tydperk het Jakkie aan depressie begin ly en het uiteindellik uit die Polisiemag bedank.

In April 2004 verhuis hulle Krugersdorp toe waar hulle vandag nog woon.

Hulle het twee volwasse kinders, Jaco (31) en Carina (32).

Trudie sê sy het nog nooit regtig ‘n egskeiding oorweeg nie, maar skerts dat sy wel al verskeie kere moord oorweeg het.

“As ek my lewe kon oorhê sou ek beslis dinge anders gedoen het, maar ek sou nie ‘n ander lewensmaat of kinders wou hê nie.”

Dit is nog sewe jaar voordat hulle die 50-merk haal, maar van partytjie hou wil Trudie niks weet nie.

“Ek hou nou weer van parties en dans, so ons gaan beslis skoffel,” lag Jakkie.

One Comment

  1. Trudie & Jakkie – ek is so bly ek het die twee aan mekaar voorgestel! Van die eerste oomblik af het ek geweet hulle is vir mekaar bedoel! God’s rykste seen vir julle twee en nog baie baie mooi jare wat voorle!

Back to top button