Local sportSport

G’n brand behoort dié brandweerman te stuit nie

'n Krugersdorpse brandweerman het 'n algehele tweede plek in 'n nasionale brandweerkompetisie verower.

”n Brandweerman wat as ‘n klein seuntjie groot drome gehad het om eendag lewens te red en nou sy droom in sy loopbaan verwesenlik, was een van ses Wes-Randers wat onlangs aan die Toughest Firefigther Alive South Africa kompetisie deelgeneem het en sukses behaal het.

Hy sit sowat ‘n uur se oefening elke dag van die week in om seker te maak dat hy fiks bly.

Manie Gouws (35) van Krugersdorp-Noord het ‘n glimlag op sy gesig wanneer hy oor sy prestasies by dié kompetisie praat, wat vir die derde keer in Kaapstad gehou is.

“Uit die 142 brandweermense van oor die hele land wat aan hierdie nasionale kompetisie deelgeneem het, het ek ‘n algehele tweede plek gekry.”

Hy vertel dat die kompetisie uit vier dele bestaan het, soos om met ‘n brandslang te hardloop, ‘n hindernisbaan te voltooi, by ‘n toring op te klim en trappe te klim.

Hulle moes al die afdelings binne slegs 40 minute voltooi.

“Ons het tien minute vir elke afdeling gekry – vyf minute om die afdeling te voltooi en ‘n verdere vyf minute as rustyd. Indien die deelnemers enige tegniese foute begaan het, word 20 sekondes straftyd by die tyd bygevoeg.”

‘n Inligtingsblaadjie verduidelik elke afdeling:

• Die brandslange moes aan brandkrane gekoppel word en oor ‘n afstand van 80 tot 90 meter getrek word asook opgerol word en weer teruggeplaas word.

• Deelnemers moes ‘n metaalblok 50 keer met ‘n hamer slaan, dit dan neersit, 20 meter ver hardloop om ‘n emmer van 25kg op te tel en 20 meter daarmee hardloop om dit weer op sy plek terug te sit. Daarna moes hulle ‘n pop van 80kg tussen 30 en 40 meter ver sleep en dan teen ‘n muur van drie meter hoog opklim en daaroor spring.

• ’n Leer moes teen ’n toring van vier verdiepings hoog geplaas word waarna twee skuimdromme van 12,5kg elk daarteen opgedra moes word. ‘n Brandslang van tussen 25 en 30kg moes ook teen die toring opgetrek word.

• In die laaste afdeling moes deelnemers teen die nagenoeg 300 trappe van 21 verdiepings in volle uniform ophardloop.

In laasgenoemde afdeling het Manie ‘n gouemedalje verower toe hy ‘n eerste plek in sy ouderdomsgroep behaal het.

Manie sê hy is baie trots op sy prestasies, veral omdat hy stof in ‘n paar van die jonger brandweermanne se oë kon skop.

“Dit verg baie harde oefening om steeds op hulle vlak te kan kompeteer, veral nadat ek in Maart ‘n liesbreukoperasie ondergaan waarna ek vir ‘n ruk lank onaktief was.”

Hy sit sowat ‘n uur se oefening elke dag van die week in om seker te maak dat hy fiks bly.

Back to top button