Local newsNews

R24: Bewusmaking nodig om pad te beveilig

Ses maande het verloop sedert 'n noodlottige ongeluk geliefdes se lewens op dié pad geëis het.

Op Lentedag 1 September sal dit ses maande wees sedert ‘n ouerpaar van hulle lieflingdogter moes afskeid neem.

Louwrens Jacobs, die pa van Alicia (20) wat op 1 Maart, drie dae voor sy 49ste verjaardag, in ‘n motorongeluk op die Tarltonpad (R24) gesterf het, sê hy glo ‘n bewusmakingsveldtog moet van stapel gestuur word om mense oor die gevare van hierdie pad in te lig.

“Ek glo dat waarskuwingstekens op dié deel van die pad opgesit moet word om mense te waarsku dat dit ‘n hoë ongeluksrisiko inhou.”

Hy vertel dat daar gereeld ongelukke op hierdie pad plaasvind, wat al as die pad van die dood onder inwoners bekendstaan.

“Mense het min respek vir ander motoriste, want hulle hou glad nie by die spoedbeperkings nie. Spoedvrate is die rede vir baie van die ongelukke.”

Jacobs sê as Alicia se dood mense van hierdie pad se gevare kon bewus maak, sal dit reeds vertroosting bring.

“Ek wil geen ouer dit toewens om hulle kind op so ‘n manier te moet verloor nie. Om jou kind op die ongelukstoneel te sien en haar nog by die lykshuis uit te ken is ‘n nare gevoel.”

Op 1 September sal Jacobs ‘n kruis, wat hy self gemaak het, met sy dogter se foto daarop om dit meer persoonlik te laat voel, by die plek waar sy gesterf het oprig.

Trane het oor sy wange geloop toe hy gesels het oor die dag waarop sy dogter van hom af weggeneem is.

“‘n Mens dink dat dit makliker sou gaan, maar dit is nog baie moeilik om oor haar heengaan te praat,” verduidelik hy.

Sy dogter, wat hy as sy regterhand en ‘n regte staatmaker beskryf, het voor haar werksplek gesterf toe sy ‘n saamrygeleentheid gekry het.

“Alicia moes daardie dag twee uur die middag gaan werk het, maar die mense wat haar moes gaan aflaai het haar tien voor twee laat weet dat hulle dit nie meer sal kan maak nie.”

Uit desperaatheid het sy begin stap en haar werkgewer Chris Scheepers laat weet dat sy sou laat wees en die redes daarvoor gegee.

“Hy het aan haar gesê dat dit nie ‘n probleem is nie en dat sy die 6nm-skof kan werk.”

Alicia het toe vir Mimi Koekemoer (47) gekontak en haar gevra of sy haar sal kan neem, waarop Koekemoer gesê het dat sy haar sal oplaai sodra sy klaar gewerk het.

Teen 3.30nm het Koekemoer haar opgelaai en omdat sy self ‘n gereelde klant was, sou hulle gekuier het voordat Alicia met haar skof sou begin. Hulle was egter voor Alicia se werksplek in ‘n motorongeluk betrokke en albei is op die toneel dood nadat ‘n trok in hulle vasgery het terwyl Koekemoer gewag het om by die perseel in te draai.

“Ek was nog by die werk en om van my dogter se dood te hoor, was ‘n groot skok. Toe ek daar aankom het dit vir my gelyk of sy net teenaan die stuurwiel lê en slaap so asof ‘n mens haar net kon wakker skud.”

Jacobs sê haar teenwoordigheid word nog in die huis gevoel en hy moet nog ‘n plek kry waar hy haar as kan strooi.

“Die pad vorentoe is onseker omdat ons sover geen terugvoering van die trokmaatskappy gehad het nie. Die polisie het ons ook nog nie besoek om inligting te kry nie.”

Back to top button