Local newsNews

Tarlton pad van dood steeds geïgnoreer

Die apatiese houdings van die maatskappy, Mogale City asook Gautrans kos mense hulle lewe.

Inwoners en motoriste wat van die N14 deur Tarlton gebruik maak, word daagliks onderwerp aan ‘n lewensgevaarlike situasie voor die ingang van ‘n vulstasie van ‘n baie prominente brandstofgroep.

Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus se Gauteng-mediawoordvoerder sê daar is herhaaldelik ‘n ernstige en dringende beroep op Mogale City Verkeer en Gautrans gedoen om ‘n tydelike maar haalbare oplossing te vind vir die sowat 30 trokke, soms selfs meer, wat aan weerskante van die pad staan. Die betrokke vulstasie is in die proses om hulle wagstaanplek op te gradeer, waar die trokke kan parkeer.

Volgens haar is die probleem “dat van die trokke u-draaie moet maak op gedeeltes van die pad naby ‘n blinde draai, asook ‘n paar meter van ‘n brug af wat beteken dat motoriste se uitsig soms heeltemal versper word”.

Daar was al ‘n hele paar noodlottige ongelukke met die mees onlangse toe ‘n assistent-trokbestuurder om ‘n trok oor die pad gehardloop het om dokumentasie by die vulstasie in te dien, en toe raakgery is.

De Lange sê daar is ‘n veilige area ongeveer 200m van die vulstasie af, wat veilige toegang tot die N14 asook R24 bied. Die trokke het voorheen daar gestaan maar ‘n winkeleienaar het Mogale City Verkeer gekry om hulle te verwilder.

Sy sê dat ondanks die hoë ongeluk- en sterftesyfer, Mogale City steeds nie die situasie monitor of probeer besleg na herhaalde versoeke van die gemeenskap nie. Dit is ook glad nie aanvaarbaar dat ‘n prominente maatskappy soos hierdie, ondanks die feit dat hierdie ongelukke en sterftes direk aan hulle onnadenkende reëlings te wyte is, geen poging aanwend om ‘n tydelike oplossing te probeer vind nie. Met risikobeheer en veiligheidsmaatreëls wat so hoog aangeskryf word by sulke maatskappye, lyk dit nie goed op hulle CV as veiligheid en omgee slegs tot by hulle hekke strek nie.

De Lange sê die apatiese houdings van die maatskappy, Mogale City asook Gautrans kos mense hulle lewe. “Ons wil probeer voorkom dat daar nog mense sterf as gevolg van die lewensgevaarlike situasie wat hier geskep word,” sê sy.

Back to top button