Gewilde Lollos is Saterdag terug in Kemptonpark

Lollos en die karakters is so gewild dat hulle oor die afgelope paar jaar 'n reeks produkte bekendgestel het

Die bekende en gewilde kinderproduksie Lollos is op 24 Junie terug in Kemptonpark met hul nuutste vertoning, Lollos 9 – Mallemeule.

Lollos is ‘n opvoedkundige Afrikaanse vertoning gerig op kinders tussen die ouderdomme van 1-10 jaar oud. Lollos se hele uitgangspunt is om kinders aktief te kry en saam te dans – die vertonings is dus uniek deurdat terwyl hulle lekker saam beweeg en fiks word, hulle ook iets leer.  Hulle leer onder andere die ABC, hoe om te tel, die dae van die week, hoe om gesond te eet en fiks te raak, hulle leer van ons land, herwinning en vele meer.

Lollos stel jaarliks ‘n nuwe produksie, CD en DVD bekend. Hierdie produksie, Lollos 9 – Mallemeule is nog splinternuut en is op 8 April 2017 by die KKNK in Oudtshoorn bekendgestel.

Lollos en die karakters is so gewild dat hulle oor die afgelope paar jaar ‘n reeks produkte bekendgestel het wat onder meer storieboeke, aktiwiteitsboeke, badprodukte, klere, sagtespeelgoed, rugsakke, beddegoed, kampstoele, ‘n Lollos-partytjiereeks en dies meer insluit. ‘Van hierdie items sal Saterdag by die konsert te koop wees.

In Lollos 9 – Mallemeule het Willa die Gorilla vir Lollos en Lettie uitgenooi vir ete, maar hy háát dit as iemand laat is!

Willa is die baas van Aapstert Bos, ‘n wonderlike pretpark met ‘n Tuimeltrein en ‘n Wolkie Wiel en alles wat lekker is. Lollos, Lettie, Disco en Karla spandeer die hele dag in die park en geniet die speletjies en pretritte terdeë terwyl hulle nuwe liedjies sing soos Voer die Varkie Vet, Woep-Wap en Lalalollie – maar sal hulle onthou om betyds te wees vir hul afspraak?

Die vertoning begin om 4nm by Kaleideo in Fiskaalstraat, Glen Marais. Skakel 082 868 3056 of 082 743 8329 vir verdere besonderhede.

Exit mobile version