Navi Redd sing by Kairosteater

Die begunstigde vir die tweede konsert in 2017 is Tutela Gesinsorg/Family Care

DIE gewilde sanggroep Navi Redd is die kunstenaars by Kairosteater se konsert op 21 Junie om 7nm vir 7.30nm.

Die ‘Rebelle van a Capella’ vermaak gehore met ‘n produksie propvol treffers, elk verwerk op die unieke Navi Redd manier. Geen “back-tracks”, geen musiekinstrumente! Hulle bied ‘n mengsel van stem, klank, humor en energie aan wat niemand mag misloop nie.

Die teater, wat op die perseel van die NG Gemeente Kempton Hoogland in De Wiekusweg geleë is, hou al die afgelope vyf jaar konserte ten bate van gemeenskapsorganisasies in Kempton Park. ‘n Bedrag van R404 600 is tot op datum uitgedeel.

Die begunstigde vir die tweede konsert in 2017 is Tutela Gesinsorg/Family Care in Kemptonpark, ‘n instansie wat met gesins- en verhoudingsprobleme, alkohol- en dwelmmisbruik, moeilik-hanteerbare tieners en beweerde verwaarloosde of mishandelte kinders werk.

Kaartjies kos R130 (onder by die tafels) en R100 (volwassenes) en R80 (skoolkinders) op die galery. Teatergangers kan hulle eie kosmandjies vir die geleentheid pak.

Vir besprekings, skakel Annatjie Krige by 082 454 3520.

Exit mobile version