School sportSport

Impie-hengelaars is die beste in die land

Die span is aangewys as die beste laerskool-hengelspan in die land.

Vier hengelaars van Laerskool Impala het stof in die oë geskop van ander top hengelskole in die land.

Die span is as laerskoolwenner van die Kampioen van Kampioene-toernooi aangewys, waaraan nege hoër- en agt laerskole deelgeneem het.

Hulle het oortuigend gewen met 219 punte, met Curro Holdings tweede met 179 punte. Die Impies het 105 visse gevang en Curro 51.

Met hul 105 visse het hulle selfs die wenner van die hoërskoolafdeling, Hoërskool Die Anker, uitgestof. Die Anker kon slegs 184 punte met hul 92 visse inpalm.

Die twee meisies in die span, Eldoné Muller en Kayla Swanepoel, het hul gewig gedra en het saam 44 visse vir 108 punte geweeg. Die twee jongmanne, Michael de Villiers en Marnu Claase, het 63 visse vir 111 punte gevang. As span het hulle die meeste visse vir die toernooi geweeg.

Die kompetisie het op 27 en 28 September by die Nyl Biodiversiteitsprojek in Mokopane se kompetisieoord plaasgevind. Na afloop van die skoleligas in die onderskeie provinsies en streke, is die topskole deur na die Kampioen van Kampioene-toernooi.

Nege hoërskole en agt laerskole het deelgeneem, wat ook die Impies se B-span ingesluit het, wat agtste was.

“Die toekoms van hengel lê inderdaad in die hande van ons jong hengelaars en skole se betrokkenheid is kardinaal,” het Andries Maree, die meesterbrein agter die Kampioen van Kampioene-toernooi, gesê.

Die Nyl Biodiversiteitsprojek in Mokopane het ’n kompetisieoord ontwikkel wat ook enig in sy klas is en word op ’n wyse bestuur waar veiligheid, watersorg en vissorg die hoogste prioriteit is.

Back to top button