School sportSport

Impies begin nuwe krieket-tradisie by skool

Die wedstryd sal voortaan elke jaar na afloop van die krieketseisoen net voor die vakansie gespeel word.

’n Nuwe tradisie is laasweek by Laerskool Impala begin toe die skool vir die eerste keer vir sy eie Ashes-beker gespeel het.

Die Ashes is gereelde kragmetings tussen die krieketspanne van Engeland en Australië, waar dié twee lande om een van die kleinste trofeë in sport meeding – die Ashes Urn.

Dié tradisie het in 1882 begin toe Engeland vir die eerste keer tuis by die Oval deur Australië oorrompel is. The Sporting Times het grappenderwys oor die “dood van Engelse krieket” geskryf.

Toe Engeland daarna na Australië getoer het, is twee dwarsbalkies verbrand en die as is in die Ashes Urn gesit.

In soortgelyke tradisie het die o-12 en o-13-krieketspanne van die Impies op 18 September hul eerste Ashes-wedstryd onder spreiligte by die skool gespeel om die nuwe tradisie af te skop.

Die beker het vanjaar aan die o-13-span gegaan ,wat deur Divan de Vries aangevoer is.

’n Paaltjie, met al die spelers se name daarop, is voor die wedstryd verbrand en die as is in die Impies se eie Ashes-beker geplaas. Die beker is daarna geseël. Elke speler het ’n vuurhoutjie gebrand en dit een vir een teen die paaltjie geplaas.

Die twee kapteins van Laerskool Impala se o-13 en o-12-krieketspanne, Divan de Vries (o-13) en Marko Richter (o-12), met die Impies se Ashes-beker.

Die wedstyd is in T20-formaat gespeel. Die o-13’s het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle het 162 aangeteken, waarna die o-12’s met 99 geantwoord het.

Die beste spelers in elke span was:

o-13 kolwers: Ryan Smith (57), Divan de Vries (50), Corné Leimecke (27).

o-13 boulers: Ryan Smith, Janrik van Wyk en Ruben Hanekom.

o-12 kolwers: Louis Mouton (24), Marko Richter (12) en Garth van Deventer (8).

o-12 boulers: Garth van Deventer, Marko Richter en Zander Lourens.

Die wedstryd sal voortaan elke jaar na afloop van die krieketseisoen net voor die vakansie gespeel word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button