School sportSport

Jeugland se o-14’s spog met die beker

Jeugland se o-14’s het seker gemaak dat die beker nie vanjaar deur hul vingers glip nie.

Dit was die naweek tweede keer skeepsreg vir Hoërskool Jeugland.

Die skool se o-14 rugbyspan het die naweek gesorg dat verlede jaar se spoke hulle nie afgeskrik het nie toe dié jong span die Virsekerbeker ingepalm het.

Dit was die tweede agtereenvolgende jaar wat Jeugland ’n span in die finaal van die Virsekerbeker gehad het, en die o-14’s het seker gemaak dat die beker nie vanjaar deur hul vingers glip nie.

Hulle het teen Middelburg in die finaal te staan gekom en met 17-0 gewen. Die Jeugies het deurgaans gewys hulle was daar met net een doel – en dit was om te wen.

Met kookwateraanvalle en klipharde verdediging het die manne van Middelburg geen antwoorde gehad nie.

Darius Kleynhans en Goratile Makhobo het elk ’n drie gedruk. Marnu Maritz het albei verdoel en ook met een strafskop geslaag. Die kookwatersenter van Jeugland, Lynghe Pretorius, is as die speler van die wedstryd aangewys en het R500 van Virseker ontvang.

Jeugland het die afgelope twee jaar bewys dat rugby by die skool gesond is en besig is om ’n opwaartse kurwe te toon.

Vanjaar het drie spanne die PUK-liga gewen, drie was onder die top vyf in die PUK-reeks en drie het hul liga gewen.

Lynghe Pretorius, Jeugland se kookwatersenter, was die speler van die wedstryd.

Back to top button