School sportSport

Kempie-atleet maak skoonskip by SA’s

Nou mik hierdie jong talent vir die 2024 Olimpiese Spele.

Die skare word stil by die Nelson Mandela-stadion in Port Elizabeth, waar die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekbyeenkoms plaasvind.

Sewentienjarige Marcus Peterson van Kempton Park loop na die 400m-wegspringstreep. Hy draai om, draai weer terug, sak in die wegspringblokke en kyk stip voor hom. Dít is sy resiesritueel.

Wanneer die skoot klap dink hy nie aan die kompetisie langs hom nie, hy fokus net op die wenstreep.

“Jy’t hiervoor geoefen,” dink hy, en hy’s reg. Teen die einde van die byeenkoms is daar drie gouemedaljes om sy nek: een vir die 400m, 200m en 400m-aflos.

Marcus Peterson sê die eerste wen het hom geskok en die ander twee was net ‘n bonus. Foto: verskaf

“Ek was geskok oor die eerste wen,” vertel hy nou beskeie in Hoërskool Kempton Park kafeteria. ’n Hoofseunbalkie glinster aan sy skoolbaadjie. “Die ander wenne was net ’n bonus.”

Nou mik hierdie jong talent vir die 2024 Olimpiese Spele. “Ons gaan dit stape vir stap vat om hierdie groot droom te bereik.”

Al moet Peterson man-alleen meeding, sê hy dit vat ’n hele span ondersteuners om hom oor die streep te kry.

“Ek sou dit nie sonder my afrigter kon doen nie. Ook nie sonder my ouers se ondersteuning of my Hemelse Vader nie. Te danke aan Hom is ek waar ek vandag is.”

Die Spele is nie Peterson se enigste groot droom nie. Hy hoop om volgende jaar meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.

“’n Roetine is baie belangrik,” verduidelik hy oor hoe hy alles gedoen kry.

“You have to stay committed to everything that you do, and always do that extra one.”

Draai die klok terug en Peterson is in Graad Vier. Hy het pas sy eerste 100m gewen en die gevoel van wen is een waarvan hy hou. As hy maar net geweet het wat wag.

Drie van die bestes. Atleet Marcus Peterson het skoonskip gemaak by die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekbyeenkoms, nou mik hy vir goud op wêreldvlak. Foto: verskaf.

Back to top button