School sportSport

KYK: Kempies se sagte reus op pad na Italië

Hy is miskien lank, maar dit is nie hoekom dié topatleet uitstaan nie.

Juan Oosthuizen (16) is ’n sagte reus. Dié 2.06m lange Hoërskool Kempton Park-skolier toring oor sy skoolmaats uit en moet elke kort-kort buk om ’n klaskamer binne te gaan.

Sy lengte is egter nie waarom dié Kempie uitstaan nie. Dié talentvolle atleet is by vanjaar se SA diskusspan ingesluit en vertrek in Julie om in Italië teen sowat 70 ander lande te gaan deelneem.

Met ’n persoonlike beste afstand van 56.12m is dít geen verrassing nie.

“Ek het in Graad Drie met atletiek begin, maar in Graad Vyf vir die eerste keer aan ’n diskus geraak,” vertel Oosthuizen.

“Dis lekker om goed te gooi. Ek doen dit soms om van my frustrasies ontslae te raak,” sê hy met ’n laggie. Sy ander sporte sluit in krieket, golf en gewigstoot.

Ten spyte van sy veelsydigheid is dié Glen Marais-inwoner nederig. Hy vertel nie self oor sy prestasies nie, maar die rye balkies op sy skoolbaadjie doen genoeg praatwerk. Oosthuizen maak wel nie net staat op sy talent om hierdie prestasies te behaal nie.

“Ek oefen elke dag vir ’n uur en ’n half, dan gaan ek gim toe.”

Wanneer hy nie daar of op die atletiekveld is nie, kan jy hom op die gholfbaan vind, waar hy drie tot vier ure per dag oefen. Hy was tien jaar oud toe hy begin speel het, en dit is duidelik dat sy hart by dié sport lê.

“Ek sal kyk wat atletiek vir my inhou, maar die droom is om na skool ’n professionele gholfspeler te word. Ek wil ook graag argitektuur gaan studeer.”

Oosthuizen se vakke sluit IGO, besigheidstudies en geografie in. Volgens hom is dit nie te moeilik om ’n balans te vind tussen sy sport, skoolwerk en sosiale lewe nie.

“Tydens skool is ek saam met my vriende, na skool oefen ek, daarna doen ek my huiswerk en dan sal ek bietjie op Instagram gaan.”

Op sy sosiale netwerk-blad staan, “As jy nie bang is vir jou drome nie, dan droom jy nie groot genoeg nie.”

Met helde soos Rory McIlroy, Tiger Woods en Virgilijus Alekna droom dié atleet definitief groot genoeg. Wie weet? Miskien is hy Suid Afrika se volgende Big Easy.

Back to top button