School sportSport

Kruinie-atlete spring na hoër hoogtes by SAs

Al is dié drie atlete reeds sportsterre, droom hulle nie daarvan om ’n beroep daaruit te maak nie.

Honderde atlete het op 16 en 17 Maart aan die SA Junior Atletiekkampioenskappe in die Paarl in die Wes-Kaap deelgeneem.

Hier het top-laerskoolatlete bymekaar gekom en sporttalent het geseëvier.

Drie van die atlete wat deel van die Gauteng-span was, was hoogspringers Ethan Botha (10), Morgan Maritz (10) en Keira Pienaar (11), al drie van Laerskool Kruinsig.

Morgan het nuwe hoogtes met haar sprong van 1,3m bereik. Sy het haar afdeling gewen sowel as haar beste sprong verbeter. Sy het vanjaar eers met dié sport begin. Keira het ook pragtig in haar ouderdomsgroep gevaar. Haar hoogte van 1,3m het gesorg dat sy vyfde plek opraap. Ethan was agtste in sy afdeling met ’n hoogte van 1,33m.

Presteer kom nie sommer maklik vir dié atlete nie. Hulle oefen vier dae ’n week, een uur per dag om hul hoogspringvaardighede te verbeter. Afrigter Peet Grové fokus op tegniek en veerkrag sodat die jong atlete in tip-top kondisie is.

Hy glo wel dat daar nie te veel druk op kinders geplaas moet word nie.

“Wanneer hulle in ’n ontspanne omgewing is, sal die prestasies vanself kom. Ek wil nie te veel druk op hulle sit nie, anders verloor kinders wat baie potensiaal het, belangstelling.”

Hierdie passievolle afrigter gee sy bes om talent in atlete raak te sien en dit te ontwikkel.

Die talent onder die drie Kruinies is duidelik. Ethan sê dat hy van hoogspring hou omdat hy goed is. Die hoogspringgogga het hom gebyt nadat hy die Olimpiese Spele gekyk het.

“Ek was nie bang vir die paal nie, ek het dit maar net gedoen.”

Morgan geniet hoogspring omdat dit volgens haar die maklikste sport is. Vir haar is langafstande die moeilikste. Sy sê dit is nie moeilik om balans tussen skool en atletiek te vind nie. “Doen net jou huiswerk in die klas.”

Keira vertel dat sy die eerste keer bang was toe sy aan hoogspring deelgeneem het, maar nou is dit soos tweede natuur. Sy het drie jaar terug by die Kruinies se huissport, waar sy in die Pikkewyn-span was, daarmee begin.

Al is dié drie atlete reeds sportsterre, droom hulle nie daarvan om ’n beroep daaruit te maak nie. Ethan wil graag ’n ingenieur word, Morgan ’n argitek en Keira ’n pediater.

Back to top button