Uitblinker Kempie-atleet gekies om in Europa deel te neem

Sy was net 14 jaar oud toe sy gewigstootkampioen Simoné du Toit se gewigstootrekord verbeter het.

’n Uitblinkeratleet van Hoërskool Kempton Park is gekies om Suid-Afrika in Europa te verteenwoordig. Al wat gewigstoot- en diskusatleet Christelle Grobler (16) nodig het om hierdie geleentheid ’n werklikheid te maak, is sowat R50 000.

Christelle het met Kempton Express by die Kempie-kafeteria gesels. Haar skoolbaadjie is met rye atletiekbalkies versier. Sy is ook ’n prefek.

Om haar is Kempies besig om te gesels, lekkernye te bestel en huiswerk te doen. Wanneer Christelle nie self agter die boeke is om vakke soos fisiese wetenskap of wiskunde te leer nie, is sy twee ure per dag op die sportveld.

Hierdie toegewyde tiener het reeds in graad een met atletiek begin. Drie jaar later het gewigstoot en diskus haar gewink en sy het nooit weer teruggekyk nie.

“Dis vir my ’n lekker onstpanningsaktiwiteit en dit leer mens dissipline, want dis baie harde werk,” vertel sy.

Om skool, sport en ’n sosiale lewe te balanseer, kan nie maklik wees nie. Wat hou Christelle dan gemotiveerd? Sy sê dat sy uit dié sport eendag ’n beroep wil maak, sowel as haar land by die Olimpiese Spele verteenwoordig.

Wanneer Christelle Grobler nie agter die skoolbanke van Hoërskool Kempton Park is nie, is sy op die sportveld.

Volgense Christelle se pa, Pieter, het sy dogter op ’n jong ouderdom reeds talent gewys. Soveel so dat hy besluit het om haar self af te rig, ten spyte daarvan dat hy geen ervaring gehad het nie.

“Wat ek nie geweet het nie, het ek maar ge-Google,” lag hy.

Dié pa-en-dogter duo werk duidelik. Op die ouderdom van 14 het Christelle reeds gewigstootkampioen Simoné du Toit se rekord van 14.7m verbeter. Dié staan nou op 15.2m.

Dit is dus geen verrassing dat keurders hierdie topatleet by ’n sportbyeenkoms raakgesien het nie. Christelle is gekies om later die jaar Vision Sport Suid-Afrika in beide gewigstoot en diskus in Europa te verteenwoordig. Dié topatleet, net soos wanneer sy oor atletiek praat, se oë sprankel oor die onderwerp.

“Dit sal vir my soveel beteken om te kan gaan,” sê sy. “Dit sal baie goeie ondervinding wees en ek dink ook dit sal baie lekker wees.”

Volgens haar pa is daar nie baie kinders wat so ‘n geleentheid kry nie. “Dit sal haar help groei. Hoe kan ’n mens vir haar sê dat sy nie kan gaan nie?”

Hierdie gesin is bewus daarvan dat dit finansieël nie met almal goed gaan nie. Enige donasies om Christelle se atletiekdroom ’n realitiet te maak, sal deur hulle waardeer word. Enige lesers wat kans sien om te help kan Christelle se ma Jackie by 076 060 8043 kontak.

Exit mobile version