Kempies se sewesspan wen weer die Valke-trofee

Beide Kempies se spanne het vir die Noordvaal-toernooi in Pretoria gekwalifiseer

HOËRSKOOL Kempton Park se o-17 sewesrugbyspan het Saterdag vriend en vyand verras deur vir die tweede jaar as Valkewenners gekroon te word.

Die Valke hoërskolebestuur bied jaarliks twee toernooie aan wat dien as kwalifiserende toernooie vir die Noordvaal-toernooi eerskomende naweek in Pretoria.

Kempies het in hul groepwedstryde onder meer met Hoërskool Jeugland, Hoërskool Hugenote en Vereeniging Gimnasium afgereken om vir die beker-halffinaal teen Hoërskool Dr EG Jansen te kwalifiseer.

Met rotsvaste verdediging het Kempies van die afskop af vir Jansen onder druk geplaas. Met die tyd verstreke was Kempies reeds 15-7 voor, maar het ongelukkig toegelaat dat EG Jansen nog ‘n laaste keer die doellyn oorsteek, met die eindtelling 15-14.

In die finaal was Kempies se tempo net te veel vir Transvalia en Kempies was rustyd met 17-5 voor. Transvalia het met ‘n reuse poging in die tweede helfte hard probeer, maar Kempies se verdediging was deurslaggewend om die wen te verseker.

Die o-15 span het Hoërskool Hugenote met 22-17 in die plaatfinaal gewen. Beide Kempies se spanne het vir die Noordvaal-toernooi in Pretoria gekwalifiseer.

Exit mobile version