School sportSport

Kempies verras met 20-19 sege oor Eldoraigne

Die eerstes kom Saterdag in die kwartfinaal teen die huidige kampioene te staan

HOËRSKOOL Kempton Park se eerste rugbyspan het Saterdag vriend en vyand verras deur Hoërskool Eldoraigne met 20-19 te wen in ‘n klipharde stryd in ‘n uitspeelwedstryd in die Virsekerbeker vir makroskole.

Eldoraigne het as die volslae gunsteling op hul tuisveld gedraf nadat hul Hoërskool Monument met 27-22 in die Tuks-skolereeks vroeër die jaar geklop het.

Van die afskop af was dit duidelik dat Eldoraigne met hul groot pak voorspelers baie druk op die Kempies gaan uitoefen, maar krediet moet aan die span gegee word met die kalm manier hoe hul die Eldoraigne-aanslag hanteer het.

Die draaipunt in die wedstryd het in die 30ste minuut van die eerste helfte aangebreek toe Kempies se binnesenter, Ruben Fullard, met ‘n reuse strafskop van meer as 60m geslaag het.

Fullard, wat ook as Lem as gevolg van sy rotsvatse verdediging bekend staan, was verseker een van Kempies se uitblinkers.

Voorlangs het die slotpaar, Adriaan Labuschagné en Hilton Gie, soos ‘n Bakkies Botha en Victor Matfield van ouds die dinge laat gebeur. Labuschagné was ‘n yster in die los, terwyl Gie se lynstaanspel en hardloopvaardighede beëindruk het.

Kempies speel Saterdag in die kwartfinaal teen die huidige houers van die Virseker Beker, Hoërskool Garsfontein. Teen druktyd was die plek waar die wedstryde gespeel gaan word, nog nie afgehandel nie. Dit sal beslis nie by Kempies plaasvind nie.

Die o-16A-span, wat Hoërskool Zwartkop oortuigend met 43-12 geklop het, speel op hul beurt teen Hoërskool Menlopark.

Kempies se puntemakers vir die eerste span:

Drieë: Chris Booyse, Adriaan Labuschagné en Werner Schoeman.

Doelskop: Ruben Fullard.

Strafskop: Ruben Fullard.

Back to top button