Editor's choiceSchool sportSport

Twee Kempie-spanne dring deur na volgende rondte van Virsekerbeker

Met 20 minute se speeltyd oor het Kempies die krane behoorlik oopgedraai en vyf mooi drieë gedruk

HOËRSKOOL Kempton Park se eerste rugbyspan het Saterdag vir Hoërskool Noordheuwel op Kempies se tuisveld oortuigend met 48-8 getroef in ’n kwalifiserende wedstryd in die Virsekerbeker vir makroskole.

In die voorwedstryd het Kempies se o-16A span vir Jeugland met 29-14 in ’n harde, aanskoulike wedstryd geklop.

Die o-14A span het ongelukkig met 36-5 teen Noordheuwel verloor.

Noordheuwel se eerste span het van die afskop af met ’n reuse aanslag na vore gekom en ’n harde stryd is verwag. Met die omdraaislag was Kempies reeds 14-3 voor, maar Noodheuwel het in die eerste minuut van die tweede helfde gaan druk om die telling 14-8 te maak.

Met 20 minute se speeltyd oor het Kempies die krane behoorlik oopgedraai en vyf mooi drieë gedruk.

Om helde uit te sonder sal onregverdig wees, maar Kempies se skakelpaar, Chris Booyse en Johnic Smith, het die wedstryd dikteer met flank Jaco Goosen wat die vuur voor aangesteek het.

Kempies se puntemakers was:

Drieë: Johnic Smith, Chris Booyse, Zander van der Merwe, Werner Schoeman (2), Ruben Fullard en Xander Terblanché.

Doelskoppe: Johnic Smith (2) en Quinton Fincham (3).

Strafskop: Johnic Smith (1).

Back to top button