Kempies se o-16’s ryg nege drieë in

Al die skool se rugbyspanne was die naweek aan die wenkant

HOËRSKOOL Kemptonpark se eerste rugbyspan het Saterdag vir Hoërskool Florida op Kempies se tuisveld met 29-23 in ‘n makroskole-ligawedstryd getroef.

Van die afskop af het Florida die Kempies se doellyn oorgesteek, maar Kempies se heelagter Darquinn Els het dadelik met ‘n drie van sy eie geantwoord.

Florida was lank met 15-5 voor, maar twee verdoelde drieë in die laaste 10 minute voor halftyd het rustyd aangekondig met die telling 19-15 in die Kempies se guns.

Kempies se kaptein en agsteman Xander Terblanché het soos gewoonlik die skare op hul voete gehad met sy drie vier minute in die tweede helfde, wat deur losskakel Quinton Fincham verdoel is.

Dit was Fincham se derde doelskop vir die dag. Hy het ook met ‘n strafskop geslaag wat sy persoonlike bydrae vir die wedstryd tot nege punte opgeskuif het.

Al Kempies se rugbyspanne was Saterdag aan die wenkant, maar daar moet spesiale vermelding van die o-16A-span gemaak word, wat tradisionele Kempie-hardlooprugby gespeel het en nie minder nie as nege drieë gedruk het in hul oorwinning van 60-14.

Die volledige uitslae was:

Rugby: o-14A 22-0, o-15A 15-13, o-15B 26-5, o-16A 60-14, o-16B 17-12, derdes 55-5, tweedes 31-0.

Hokkie meisies vs Marais Viljoen: o-14A wen 6-0, o-14B gelykop 1-1, o-15A wen 7-0, o-15B wen 1-0, o-16A wen 5-0, o-16B wen 1-0, derdes wen 1-0, tweedes wen 10-0, eerstes wen 10-0.

Exit mobile version