Tieneratleet is een van wêreld se bestes

Hy was nog elke jaar van sy hoërskoolloopbaan die skool se Victor Ludorum by die interhuis

‘n Jong atleet van Kemptonpark spog tans met ‘n tweede en derde plek op die Internasionale Assosiasie vir Atletiekfederasies (IAAF) se wêreldranglys.

Die 17-jarige Julian Bochner, ‘n oud-leerling van Laerskool Van Riebeeckpark en tans in graad 11 by Hoërskool Waterkloof, is gekies om in Julie aan die World Youth IAAF-kampioenskappe in Kenia deel te neem.

Hy sal in die 110m hekkies en verspring in aksie wees.

Julian is tans tweede op die ranglys in die 110m hekkies en derde in verspring.

JULIAN Bochner se persoonlike beste in verspring is 7.45m. Foto verskaf

Tydens Affies se uitnodigingsbyeenkoms vroeër vanjaar het hy sy persoonlike beste van 7.45m in verspring behaal.

By die A-bond interhoër was hy ook eerste in verspring met ‘n sprong van 7.24m, terwyl hy 7.30m by die D4 kampioenskappe gespring het om die goue medalje te verower.

Sy tye in die 110m hekkies by dié twee byeenkomste was 13.96s en 13.58s onderskeidelik.

Hy was nog elke jaar van sy hoërskoolloopbaan die skool se Victor Ludorum by die interhuis.

Hy word afgerig deur Charlie Strohmenger en Duan Viljoen in verspring en deur Bonnie Ras in hekkies.

Julian neem die naweek as deel van Atletiek Gauteng-Noord se span deel aan die SA junior kampioenskappe by Greenpoint-atletiekstadion in Kaapstad.

Behalwe vir sy atletiekprestasies, was Julian in 2016 deel van die Blou Bulle se Grant Khomo-rugbyspan wat die Coca-Cola-toernooi gewen het.

Hy het ook hierdie jaar ‘n hoofrol in Die Sangoma Sindroom by KykNet se kortfilmfees vertolk

Exit mobile version