Oud-Kempie se rekord van 14 jaar aan flarde

Sy spog ook met afstande van meer as 40m in diskus en sy hardloop die 100m in 12.70s

CHRISTELLE Grobler (15) van Hoërskool Kemptonpark het vir haarself ‘n plek in die skool se rekordboeke losgestoot toe sy ‘n rekord in gewigstoot, wat vir 14 jaar gestaan het, verbeter het.

Grobler het Simone du Toit, ‘n voormalige Kempie en wêreldjeugkampioenskap-titelhouer, se rekord van 13.80cm met 80cm verbeter. Du Toit het haar rekord in 2003 opgestel. Grobler se rekordstoot van 14.60m het sy by vanjaar se huissport in Januarie behaal.

Op 15 Februarie, by die Tuks Top 10 byeenkoms, het Grobler haar persoonlike beste afstand in gewigstoot weer verbeter met ‘n afstand van 15.04m.

Sy spog ook met afstande van meer as 40m in diskus en sy hardloop die 100m in 12.70s.

Volgens Grobler se ma, Jackie, het sy vir haarself ‘n mikpunt gestel om die einde van die jaar 15m in gewigstoot te haal. Nou het sy dit reeds in die tweede maand van die jaar bereik.

“Ons is ongelooflik trots op haar en ons deel haar liefde vir atletiek,” voeg Jackie by.

Grobler het ook vanjaar die staande rekord van 13.20m by die Florida Top 10-byeenkoms na ‘n afstand van 14.57m verbeter, asook Afrikaans Hoër Meisies se rekord van 13.42m na 14.49m. Sy is hier as die beste veldatleet aangewys.

Grobler se pa, Pieter, rig haar af vandat sy ses jaar oud was en die twee het ‘n spesiale band gevorm oor die jare. Hulle spandeer elke dag twee ure op die atletiekbaan en driekeer ‘n week in die gimnasium.

Sy presteer ook baie goed akademies en handhaaf ‘n gemiddeld van 85%. Haar ander liefdes is musiek en diere.

Exit mobile version