O/15’s wen brons by Coke-toernooi

Kempie-gimnaste vaar goed in die Bosveld

DIE O/15A netbalspan van Hoërskool Kemptonpark het die naweek aan die Coke-toernooi deelgeneem waar bykans 100 spanne van dwarsoor die land in vyf ouderdomsgroepe deelgeneem het.

Kempies het al vier hul poelwedstryde teen Waterkloof, Wesvalia, Ben Vorster (verlede jaar se SA wenner) en Nelspruit gewen.

In die kwarteind het hulle Vereeniging Gimnasium uitgeskakel, maar het in die semi-finaal met 6-10 teen Menlopark (vanjaar se Gauteng-wenner) verloor.

Hulle het in die uitspeel om derde en vierde plek met Diamantveld van Kimberley afgereken om bronsmedaljes te verower.

Die O/14A span het Vrydag aan die Ekurhuleni-uitspele deelgeneem. Hulle het al drie hul wedstryde gewen om as poelwenners te eindig. In die finaal het hulle naelskraap teen Dinamika verloor. As naaswenners van die streek neem hulle Vrydag aan die provinsiale kampioenskappe by Florida deel.

Voortrekkers: Christeline Kruger het gedurende die nasionale Presidentsverkennerkamp die Presidentsverkennertoekenning verwerf. Dié toekenning is ‘n prestige-toekenning wat deur Die Voortrekkers as ‘n nasionale toekenning in kulturele leierskap beskou word.

Kempie/Van Riebeeck landloop: Kempies het die afgelope naweek die jaarlikse landloopbyeenkoms aangebied waaraan 14 skole in die hoërskoolafdeling deelgeneem het. Kempies was algeheel derde.

Die posisies in die onderskeie afdelings was:

Junior meisies: 1. Vorentoe High A. 2. Vorentoe High B. 3. Affies Meisies A.

Junior seuns: 1. Vorentoe High A. 2. Zwartkop A. 3. Kempton Park A.

Senior meisies: 1. Vorentoe High A. 2. Kempton Park A. 3. Prestige College A.

Senior seuns: 1. Vorentoe High A. 2. Prestige College A. 3. Vorentoe High B.

Gimnastiek: Kempies het ‘n sterk span ingeskryf vir die naweek se Bosveld-uitnodigingsbyeenkoms.

Vlak 2: Chané van Aswegen goud, Dominique Vermeulen silwer en Madeleen Venter brons.

Chané het die besondere prestasie behaal deur ‘n 8.99 gemiddeld te handhaaf en het vierde in die groep van 74 gekom.

Vlak 3: Tammy Viljoen goud, Charlene Coetzee silwer en Clariska van Staden brons.

Vlak 4: Megan van Niekerk goud en Marcell Lloyd goud.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version