School sportSport

Kempies en Monnas deel louere in skole-riller

Kempies se ander rugbyspanne het opdraende in hul wedstryde gekry

SELFS die lojaalste Kempie-ondersteuner moes Saterdag effens benoud gevoel het oor die vooruitsig om Monnas aan te durf.

Dié reuse van die Wes-Rand het reeds vanjaar met rugbykragte soos Grey Kollege, Glenwood en Dr EG Jansen afgereken.

Kempies het hul man gestaan en die wedstryd op hul tuisveld, die eerste in vanjaar se Beeldtrofee-reeks, met 22 elk gelykop gespeel.

Aksiefoto’s van die wedstryd

Dit was vroeg duidelik dat die Kempies nie deur ‘n naam geïntimideer gaan word nie. Monnas, met 13 Goue Leeus Cravenweekspelers in sy geledere, het alles probeer, maar die Kempies se verdediging het die meeste antwoorde gehad.

Die geleerde skopvoet van Francois Erasmus het die telbord aan die rol gehou en met Joe Meyer aan die voorpunt het die voorspelers meer as hul man gestaan.

Toe kaptein Dean Koch met ‘n besering van die veld is en Monnas gaan druk het om 22-14 voor te loop, het die gevaarligte geflikker. Maar na nog ‘n suksesvolle strafskop deur Erasmus het die oomblik van die wedstryd gevolg.

Monnas was op die aanval en Kempies moet ‘n skrum vyf tree van hul eie doellyn ingooi. Die bal is vinnig wyd gespeel en na ‘n puik stukkie spel tussen Pieter Prinsloo en Lieu van Schalkwyk, het heelagter Martin Louw oorgeduik vir die gelykmaker. Die doelskop was onsuksesvol.

Die drama was nog nie verby nie. In die vier minute wat gevolg het, is Monnas twee keer voor die doellyn opgehou. Hul keuse om nie die strafskop wat aan hulle toegeken is nie pale toe te skop nie, is moeilik verstaanbaar.

Rugbyliga vs Monument: O/14A verloor 0-36, O/14B verloor 0-60, O/15A verloor 8-19, O/15B wen 10-7, O/16A verloor 13-29, O/16B verloor 10-19, vierde span verloor 7-19, derde span verloor 0-24, tweede span verloor 13-24.

Cheerleaders

Kempies Phoenix All Stars Cheerleaders het die lig gesien net vier weke voor die eerste SAMCA (Suid-Afrikaanse Cheerleading Assosiasie) se kompetisie. Met harde werk en baie wilskrag het hulle keer op keer met elke kompetisie verbeter.

In Mei was die groep vyfde uit 12 spanne in Gauteng en het sodoende deurgedring na die nationale kompetisie in Bloemfontein gedurende die Julievakansie.

Kempies se span is gestig deur ‘n graad 12 leerder, Saartjie Beukes. Die span word afgerig deur Chris Wilding en Stacey Hutchings.

Netbal

Kempies se O/14A span het die afgelope naweek aan die eerste rondte uitspele deelgeneem. Hulle het al hul poelwedstryde gewen en dring deur na die volgende rondte uitspele op 24 Julie.

Back to top button