Kruinie-gholfspan speel in nasionale toernooi

Tagtig spelers van 19 skole het aan die kampioenskappe deelgeneem

LAERSKOOL Kruinsig se jong gholfspannetjie het hulle goed van hulle taak gekwyt by die vierde Nasionale Ernie Els Toernooi in Middelburg die naweek.

Kruinsig was 16dee uit die 19 top skole van regoor die land. Hulle kon ongelukkig nie hul vorige beste van 12de, wat hulle in die heel eerste toernooi behaal het, verbeter nie, maar met drie graad 6 en een graad 7, was dit goeie ervaring en hopelik sal die seuns dit kan deurvoer na die Super 12 kompetisie en liga wat in die vierde kwartaal begin.

Juan Oosthuyzen was 33ste en Nicko Venter 40ste uit die 80 deelnemers.

St Dunstan’s het baie hard probeer om hulle titel te verdedig, maar moes ongelukkig die knie buig teen Curro Aurora van Randburg.

Die Kruiniespan, bestaande uit Oosthuyzen (graad 6, algeheel derde by die kwalifiserende rondte), Venter (graad 7), Brandon Robbeson (graad 4) en Greagan Horn (graad 6), het rondtes van 273 en 283 aangeteken vir ‘n totaal van 556.

Kruinsig en twee spanne van St Dunstan’s College Preparatory School het Ekurhuleni tydens dié nasionale toernooi by Middelburg Gholfklub verteenwoordig. St Dunstan’s, as die verdedigende kampioene, het outomatiese toelating tot die toernooi gekry. Hulle het egter beide hul A en B spanne vir die provinsiale kwalifiserende toernooi by Reading Gholfklub ingeskryf.

Die A span het hierdie toernooi beklink. Kruinsig was tweede en St Dunstan’s se B span derde. Omdat die A span reeds deurgedring het, het die twee kwalifiserende plekke aan Kruinsig en St Dunstan’s B gegaan.

Tagtig spelers van 19 skole (20 spanne) het Vrydag met ‘n opwarmingsrondte begin, waarna die amptelike kompetisie Saterdag en Sondag oor 18 putjies elke dag gespeel is. Die beste tellings in elke rondte het tot die span se totale punte bydra.

Die toernooi is met 21 houe deur Curro Aurora van Randburg gewen. St Dunstan’s was tweede met 460 punte en Outeniqua Primary (475) derde.

Exit mobile version