Editor's choiceLettersOpinion

Lisensie-afdeling kort meer werkers

Die munisipaliteit sal ernstig moet dink aan beter geriewe, ruimer fasiliteite met baie meer hande wat kan help

WILLIE VAN RENSBURG van Birchleigh skryf:

Ons het die bestuurslisensiekantoor op 2 Augustus vir hernuwing van ‘n bestuurslisensie besoek.

Alle dank aan die personeel daar. Hulle is behulpsaam en lyk my doen meer as een persoon se werk. As daar ‘n ernstige opeenhoping by een plek is, probeer hulle mekaar help. Onthou, daar is gedurig opeenhopings.

Hulle het baie geduld met die mense, maar die werk is ook vir hulle veeleisend. Hulle draf op en af die hele dag.

Ons het 10vm in die tou begin staan wat ver buite die gebou was, en gestaan en gestaan. Daar is net te veel mense wat bedien wil word en te min mense wat kan bedien.

Ons is nie meer kinders nie en moes toe maar so staan-staan wag tot ons stoele bereik het wat opstaan en sit, opstaan en sit beteken het.

Ons het 2.40nm daar uitgekom en huis toe gegaan, doodmoeg. Die munisipaliteit sal ernstig moet dink aan beter geriewe, ruimer fasiliteite met baie meer hande wat kan help.

Hulle kan gerus by SARS se kantore gaan kers opsteek hoe om baie mense ten minste sitplek te gee en ordelik te bedien.

Back to top button