Editor's choiceLettersOpinion

Jy betaal vir lug teen die prys van water

Al die lug wat in die stelsel is, word saam met die water aan die verbruiker gelewer

KLAAS WINDPOMP skryf:

Terwyl die swaard van waterbeurte en allerlei beperkings oor ons koppe hang, asook die stelselmatige verhoging aan straf-tariewe vir hoër gebruik, voel ek verplig om die volgende te berde te bring.

Elke maal as die munisipaliteit watertoevoer afsluit om aan die stelsel te werk as gevolg van pype wat bars of om watter rede ook al, loop water uit by die punt waar daar gewerk word. In die plek van die water word die hoërliggende gebied se pype vol lug soos wat dit uitloop.

Sodra die stelsel herstel is en die toevoer weer gelewer word, word al die lug wat in die stelsel is, saam met die water aan die verbruiker gelewer. Die volgende gebeur dan, telkens iets wat u geld uit die sak gaan jaag:

• Wanneer die lug deur die meter vloei, veroorsaak dit dat die meter vinnig spin en baie ekstra liters binne sekondes registreer – waarvoor ons natuurlik moet betaal. Waar die stelsel oud is, gebeur dit al hoe meer dikwels en moet inwoners ook meer opdok vir die lug wat deur hulle meters gaan.

Onregverdig ook nog omdat die lug net na die hoërliggende gebiede vloei.

Die “ingeligte” munisipale woordvoerder sal vir jou antwoord dat dit nie die geval is nie, dat lug nie invloed het op ons meters nie. Dit sal natuurlik ’n leuen wees. Gaan lees gerus die saak na op die internet, onder meer op die volgende webwerf: https://www.water-meter-guide.com/water-meter-problems.html

In ons munisipale waterpypleidings is daar nie lugontsnappingskleppe nie. Dit is ’n klep wat van alle lug ontslae raak voordat dit die gebruiker se meter bereik en as “water” registreer.

Kyk ook self hoeveel lug daar in jou stelsel is nadat die water vir ’n tyd lank af was, al was jy nie eers by die huis nie.

• Die berekening van die tariewe vir die wegvloei van die riool word ook op die watermeterlesing gemaak en jy word weer vir die lug aangeslaan.

• ’n Verdere probleem wat die vloei van lug deur die meter veroorsaak is dat dit die meter kan beskadig en onakkurate lesings tot gevolg het. So ’n meter kan onreëlmatige en inkonsekwente lesings gee waar sommige lesings korrek kan wees en dan weer ernstig foutief.

• Daardie lug forseer teen hoë druk deur jou stelsel se drukverminderingsklep en beskadig die baie duur klep en veroorsaak dat die warmwatergeiser aanhoudend water op die dak begin uitlek. Om dit te herstel, kos ’n klomp geld.

• Soos die hoëdruk-lug deur die pype vloei, veroorsaak dit skokgolwe in die pype wat baie verkalking in die pype losskud. Al daardie kalksand vloei tot by die kraan, stortkop, drukverminderingsklep en enige ander toerusting in die sisteem wat toegerus is met siffies om sulke vastestowwe te keer. Dit verstop dan. Indien jy nie weet dat daar so ’n siffie is nie, veroorsaak dit ’n langdurige probleem van stadige watervloei, ens.

Terwyl daar vroeër ’n meer tegemoetkomende verhouding bestaan het tussen inwoner en munisipaliteit, was ons miskien ook nog te vergewensgesind. Die verhouding het, wat my betref, ernstig versuur en tree hulle op asof hulle in ’n beheerposisie oor ons gestel is.

Die munisipaliteite moet egter weer tot die besef kom dat hulle in die bewoner se diens staan en dat ons billike en regverdige diens vereis.

Back to top button