Gemors in veld bly pla

Daar is ook ’n restaurant hier rond wat hul vullis daar gooi

ANONIEM/BEADRIX VERWEY skryf:

Dis nou die tweede keer in ’n kort rukkie dat die munisipaliteit die rommel kom verwyder het in die veld op die hoek van CR Swartrylaan en Greenlaan in Edleen.

Ek wil dankie sê dat hulle dit doen, maar ek wil weet waarom word die dinge toegelaat. En as die munisipaliteit dit verwyder, is dit die belastingbetalers wat daarvoor betaal?

Ons het in September aan die metrobeamptes by die kantoor by Edleen-sirkel gaan rapporteer wie verantwoordelik was vir van die vullis nadat ons ’n foto geneem het, maar hulle was uiters onvriendelik en onbehulpsaam.

Ek glo nie enigiets is aan die saak gedoen nie. Waar kan mens dan die tipe oortreding aanmeld, want ek het werklik nie die vrymoedigheid om enigsins weer by daardie kantoor te kom nie.

Hierdie veld is oorkant ons huis en dis uiters onaangenaam om by jou voordeur uit te loop en in rommel vas te kyk.

Daar is ook ’n restaurant hier rond wat hul vullis daar gooi. Ek het van die strokies by die een hoop gekry.

Die “kerk”, wat glo toestemming het om daar te wees, is ook verantwoordelik vir van die rommel. En hulle is ook besig om die pragtige boom wat al vir jare daar staan, te vernietig met die vuur wat hulle onder dit maak.

Mens kan sien waar die boom gebrand word. Hoekom moet alles vernietig word? Ek het nie ’n probleem met die kerkhou nie, maar nou staan die “toilet” reg voor my voordeur waar ek by my deur uitloop. Hoekom sit hulle dit nie maar tussen of agter die bome waar dit nie so opsigtelik is nie?

Moet ons werklik toekyk hoe alles vernietig en bemors word?

Exit mobile version