Editor's choiceLettersOpinion

Ons kultuurskat het so baie waarde

Daar is baie min gesinsaktiwiteite waar oupa, pa en seun saam al in die rondte kan gly

ANNABÉ PRETORIUS skryf:

Ons lees daagliks van geboue, monumente en standbeelde wat in die slag bly. Ons land betaal ‘n duur prys vir sogenaamde vryheid van spraak.

Gesprekke om die braaivleisvure gaan maak almal een of ander tyd ‘n draai by ons erfgoedere, wat nie vir almal noodwendig erfgoed is nie!

Een ding wat niemand van ons kan wegneem nie, is dit wat ons, ons eie gemaak het, dit wat nie gebou is met klip en sement nie, dit wat nie ‘n adres het nie. Ons Afrikaanse kultuurskat het ongelooflik baie waarde.

Die vraag is egter of dit genoeg waarde het. Leer ons, ons tweede, derde en vierde geslagte wat Afrikaanse erfgoed is? Vertel ons die kinders van ossewaens? Leer ons hulle klei-osse bou en kleilat gooi? Kan hulle tiekiedraai?

In 2014 het die Volkspele hul 100-jarige fees gevier. Die spele is vir die eerste keer in 1914 by ‘n Sondagskoolpiekniek in die Vrystaatse dorpie Boshof gespeel. Dr Pellissier het ‘n groot bydrae gemaak in die ’20s en ’30s, met verwerkte spele uit Europa.

Boemfaderalla en Nikko-dikkom-dei is twee van die oorspronklike spele wat vandag nog baie gewild in die volkspelekring is.

In 2014 het ‘n nuwe bundel verskyn met 23 splinternuwe spele wat deur die skoolkinders tydens hulle wintervakansie-byeenkomste die lig gesien het. Nou speel ons Langs Coetzenburg saam met Jan Pampoen en Dariedoeriekant.

Die Volkspelebeweging is ‘n Afrikaanse kultuurbeweging waar die sang en speel meer waarde het as die praat. En moenie die eet vergeet nie! Elke Maandagaand kom die plaaslike laer in Birchleigh bymekaar om te sing en te speel.

Ons sing van kolperde en rooi Afrikanerosse, van ‘n lintkooi en siembamba, van pannekoek en mosbeskuit. Ons erfgoed is ingebou in die lirieke van ons spele en oud en jonk leer van ‘n ramkie met net een snaar en Simon se diamant. Woorde word begrippe. Ons kinders leer van ons erfgoed en maak dit deel van hulle woordeskat.

Afrikaners word gereeld daarvan beskuldig dat hulle eng en outyds is, maar Afrikaanse skole raak uiters gewild oor die goeie dissipline en self-respek wat Afrikaanse kinders nog het.

Hierdie ingebore waardes word in ons spel en musiek ingeburger en uitgeleef. Oud en jonk is tuis in die volkspelekring.

Daar is baie min gesinsaktiwiteite waar oupa, pa en seun saam al in die rondte kan gly, ‘n vrolike skaar.

As hierdie vir jou herinner aan die verskeie liedjies se woorde, het jy al voorheen saam ligvoet en lenig gepolka en gewals. Klink dit vir jou na ‘n vreemde taal, bring jou kleingoed en familie en kom kyk wat ons doen.

Saamstaan-volkspelelaer hou sy jaarlikse saamtrek op Saterdag, 18 Junie, in die Wynand Marais-gemeenskapsentrum, in Birchleigh. Dit begin om 7nm en ‘n klein toegang word gehef.

Verversings is te koop. Kom wys jou kinders wat erfgoed is, hoe dit nog uitgeleef word en kom draai tiekie op die maat van Suikerbossie en Kimberley se Trein.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button