‘n Besonderse ou-styl liefde herdenk met 70ste huweliksjaar

Na vier kinders, nege kleinkinders en 10 agterkleinkinders is al drie generasies grootgemaak met baie plesier, speel, werk en dissipline.

Hannes (90) en Gertie (87) Naudé se verhaal word beskryf as liefde met die eerste oogopslag en getuig dat liefde, respek en verdraagsaamheid die sleutel tot ‘n suksesvolle huwelik is.

Hannes (90) en Gertie (87) Naudé het in 1950 in die Gereformeerde Kerk in Turffontein getrou op 5 Augustus. Foto verskaf.

Hulle kleindogter, Natasha van der Berg, het vertel dat dié paartjie nog al die jare baie betrokke by die Gereformeerde Kerk in Kempton Park was en het die koster rol van die kerk vir maklik 18 jaar vertolk.

“Destyds, toe die kerk nog op die hoek van Monument en Comissioner strate was (die ou kloktoring kerk), was hul reeds koster en die rol het aangehou vir jare tot nadat die kerk verskuif het na die nuwe gebou in Hugget Straat.

“Ouma Gertie het ook altyd gehelp met koeksisters bak vir fondsinsamelings vir die kerk en Oupa Hannes het gehelp met die kerk se ‘Papierprojek’.

“Hulle het lewenslange vriendskappe opgebou hierdeur.”

Hulle is getroud op 5 Augustus 1950 in die Gereformeerde Kerk in Turffontein, maar kon nie behoorlik hulle huweliksherdenking nou met makietie reël nie.

LEES OOK:

90-year-old surprised with a ‘happy birthday’ convoy

Natasha meen die risiko op hul ouderdom is net te groot om ‘n besonderse viering te hou.

‘n Handjievol kerk vriende het deur die loop van die dag kom inloer (met maskers en al), en van die agterkleinkinders het kom geluk sê.

“Twee van hul dogters bly saam met hulle, so daar was darem ‘n klein feesviering met koek en al.”

Hoe kan mens streef na soveel jare se getrouheid en sorg?

Hannes en Gertie baklei nie voor ander mense nie.

“As jy nie saamstem nie, gaan jy na jou binnekamer en praat dit uit, dan maak jy vrede en sê julle is lief vir mekaar, en laat dit gaan. Mens hou nie vas aan wat die ander een verkeerd gedoen het nie.

“Dit is ook baie belangrik om saam te bid. Oupa Hannes en Ouma Gertie het hulle huwelik en famile gebou om God as hulle anker en middelpunt te ken.”

Die oomblik toe hulle mekaar gewaar het in 1948 het Hannes in ‘n klerefabriek gewerk, saam met Gertie se suster.

Gertie het by dieselfde fabriek werk gekry, en was onder die indruk dat net dames daar werk. Terwyl die werknemer vir haar voorstel aan haar nuwe kollegas, sien sy toe vir Hannes raak waar hy met ‘n reuse glimlag vir haar staan en kyk.

Hannes se sagte manier wat hy met mense werk, en Gertie se groot hart, is tot vandag steeds gunsteling einskappe van mekaar.

Na vier kinders, nege kleinkinders en 10 agterkleinkinders is al drie generasies grootgemaak met baie plesier, speel, werk en dissipline.

Gertie het al die jare koekies, beskuit en koeksisters gebak vir ‘n ekstra inkomste.

Hannes se trots is steeds sy groentetuin en perskebome, waarvan plant en oes deel van al vier generasies se lewens is.

Van kleins af is almal in die familie geleer hoe om koekies en beskuit te bak, bossies uit die groente tuin te trek, boontjies te pluk, perskes in te lê, konfyt en blatjang te maak.

“Oupa Hannes was ‘n ketelmaker en ouma Gertie was ‘n voltydse ma en tuisteskepper. Sy het vir ‘n kort rukkie gewerk by Edgars in die dorp, maar haar liefde was kosmaak en bak.”

Also follow us on:

 

Exit mobile version