KYK: Aston Manor se Raponsie (6) se hare waai vir Kansa

“Ek wil hê mense met kanker moet ook hare hê.”

Aston Manor het sy eie Raponsie gehad, maar dié se blink blonde hare het Vrydagmiddag vir ’n goeie doel gewaai.Helet-Mari van der Westhuizen is miskien net ses jaar oud, maar haar hart (en hare) is van goud.

“Ek wil hê mense met kanker moet ook hare hê,” vertel sy oor die besluit om sowat 25cm van haar lokke aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) te skenk.

Hierdie organisasie gebruik skenkings van ten minste 25cm om pruike vir kankerlyers te maak.

Volgens ma Erika laat sny soveel ouers hul kinders se hare, maar dink nie daaraan om dit vir Kansa te gee nie.

“Ons sou in elk geval Helet-Mari se hare laat sny het, toe besluit ons om dit bietjie langer te laat groei sodat ons dit kan skenk,” het sy vertel. “Ons het mooi vir haar verduidelik wat met die hare gaan gebeur en vir haar foto’s gewys van kort haarstyle sodat sy kan sien hoe sy gaan lyk.”

Erika was self ’n skenker in 2014, omdat sy iemand met borskanker geken het.

Helet-Mari het tjoepstil in die salonstoel gesit terwyl haarkapper Mandie van Niekerk geduldig haar hare in klein ponies verdeel het. Kansa vereis dat die hare droog moet wees en dat albei punte van die ponies met haarrekkies vasgemaak moet word.

Pa Shaun het ’n maatband gegryp om te sorg dat die hare wel lank genoeg is en toe dit is, kon Mandie begin knip.

Kyk hoe fraai. Helet-Mari van der Weshuizen (6) was heel in haar noppies nadat haar lang lokke gewaai het.

“Nee,” het Helet-Mari gesê, “ek is nie bang nie.”

Skielik was haar lokke weg, maar daar was wel ’n glimlag op haar gesig. “Ek voel groter!”

Erika het haar dogter se geknipte hare in ’n plastieksakkie gesit, ook ’n Kansa vereiste, terwyl kleinboet Corné (3) nader gestaan het om na sy sussie se kort hare te kyk.

“Ek sal moet sien of my maatjies my gaan herken,” het Helet-Mari gesê, voordat sy met blink ogies na haar nuwe voorkoms in die spieël geloer het.

Weg is Helet-Mari se lokke. Dit sal nou in ’n plastieksakkie gesit word en aan Kansa geskenk word.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version