Editor's choiceLocal newsNews

Oud-Kempie vang graad Cum Laude

Sy beoog om in 2018 haar meestersgraad in kommunikasie aan te pak

TOPSTUDENT en oud-Kempie, Therien Roodt (22), het op 1 Maart aan die Noordwes Universiteit van Potchefstroom haar honneursgraad in BA Kommunikasiestudies Cum Laude gekry.

Sy was ook aangewys as die topstudent in haar spesialiseringsrigting (korporatiewe kommunikasiebestuur), asook die beste honneursstudent in die vakgroep kommunikasie.

Roodt het in 2012 aan Hoërskool Kemptonpark gematrikuleer en haar vlerke na die PUK gesprei waar sy deel was van die Golden Key Honour Society en die gemeenskapskakelingkomitee by Pukfm. Sy het in 2015 haar “Golden Key” ontvang.

“Ek het in die rigting gespesialeer omdat dit jou help om met mense in interaksie te tree. Dit help jou om mense te ontleed en hulle omstandighede beter te verstaan. Kommunikasie stel jou in staat om strategies te dink en pro-aktief besluite te neem,” vertel Roodt.

THERIEN Roodt (middel) saam met prof De La Rey van der Walt, die direkteur van kommunikasiestudies, en dr Lida Holtzhauzen, die vakvoorsitter van kommunikasiestudies aan die Noordwes Universiteit van Potchefstroom.

“Nie net is die kommunikasie-industrie baie breed nie, maar dit vorm die sleutelpunt van enige organisasie. Sonder kommunikasie kan effektiewe gesprekvoering nie plaasvind nie.”

Sy vertel ook dat sy die meeste na haar studente-avonture gaan verlang, maar sy is reg vir die nuwe uitdagings.

“Ek gaan my vriende wat ek ontmoet het die meeste mis, veral vir Esmari Beukes, Anna- Marie Prinsloo en Lieneke Pieterse, want hulle is die mense wat my bygestaan het en my laatnagte die moeite werd gemaak het.”

Roodt werk tans as ‘n digitale bemarker vir ATKV-sake in Randburg.

As ‘n digitale bemarker is haar verantwoordelikheid om seker te maak dat die regte boodskap op die regte sosiale mediaplatvorm uitgestuur word en dat enige navrae en klagtes hanteer word.

“Deur kommunikasie as ‘n medium te gebruik en goeie verhoudings met die media te bou, maak ek seker dat handelsmerkbewustheid en tweerigtingkommunikasie gefassiliteer word.”

“Kommunikasie moet glad nie onderskat word nie. In ons land spesifiek, speel dit ‘n enorme rol in krisiskommunikasie en dra by tot enige organisasie se verhouding-en-reputasiebestuur.

“Daarsonder sal enige instelling nie effektief kan funksioneer nie en sal misverstande nie uit die weg geruim kan word nie.”

Sy beoog om in 2018 haar meestersgraad in kommunikasie aan te pak.

“Ek beskryf myself as ‘n bruistablet opgelos in water, omdat ek ‘n energieke en hardwerkende persoon is, wat daarvan hou om met mense in interaksie te tree. Ek is mal oor my werk en my rol in die kommunikasieveld. As ek als moes oordoen sal ek weer kommunikasie studeer.”

Sy beskryf haarself ook as doelwit-gedrewe en resultaatgeoriënteerd.

In haar vrye tyd hou sy van ‘n lekker bosveldwegbreek en ‘n glasie rooiwyn. “Ek is ‘n mense-mens en braai graag saam met familie en vriende. Hoewel ek ‘n stadsjapie is, is ek avontuurlustig en hou daarvan om nuwe plekke te verken.”

Roodt glo dat die resep tot sukses geduld, moeite en selfvertroue is.

Back to top button