Ouma vier haar 100ste met rit op die Gautrain

Sy het sommer 'n paar keer partytjie gehou om die dag te herdenk

’n Inwoner van Herfsland, Lenie Engelbrecht, het op 14 Junie haar 100ste verjaarsdag gevier.

Gemeentelede van die Hervormde Kerk Kemptonpark-Oos, Hervormde Kerk Zuurfontein en vriende het by Eagle’s Nest bymekaar gekom om dié besonderse dag met haar te deel.

Haar grootste verjaarsdag-verrassing was die geskenk van die Premier Hotel OR Tambo in Rhodesfield, wat twee dae na haar verjaarsdag die gesin met ’n heerlike aandete, verblyf en ontbyt die volgende dag getrakteer het.

Vandaar is hulle met die hotel se pendeldiens na die Rhodesfield Gautrain-stasie waar hulle haar na Nelson Mandela Square geneem het vir ’n foto-sessie en besoek aan Hard Rock Café.

Die vieringe is voortgesit met ’n bymekaarkom van ’n groot groep vriende en familie vir ’n heerlike ete en pret foto-sessie by Café @ The Range in Glen Marais en ’n reuse 100ste verjaarsdagkoek op Saterdag, 18 Junie.

Op 19 Junie was daar ’n spesiale oupa- en ouma erediens by die Hervormde Gemeente Kemptonpark-Oos gehou en die NHSV-lede en gemeente het gesorg vir verversings om ook Lenie se 100ste verjaarsdag te vier, aangesien sy tans die oudste lidmaat van die gemeente is.

Haar kleinkinders, Pieter, Antonette, Nadia en Arina, asook André Austen was saam met haar by die kerk op dié besonderse dag.

Engelbrecht is op Heidelberg gebore en was met Hansie Engelbrecht getroud. Hulle het drie kinders gehad. Haar man is op die plaas Rietfontein in die distrik Balfour gebore, waar hy 80 jaar gewoon het voordat hulle in 1995 Kemptonpark toe verhuis het.

Hier het hulle by hul kinders, Hennie en Miemie Engelbrecht, in Rhodesfield kom woon.

Sy het vele ontwikkelinge op verskeie terreine in haar lewe beleef, waaronder handsentrale telefone tot selfone wat kan Skype. Televisies wat met batterye kon werk tot TV’s wat nou aan die internet gekoppel is.

Lenie het te perd skool toe gery, maar ook al die genot ervaar van ’n vliegrit Kaapstad en Durban toe. Sy het gevoel hoe dit is om vrylik elektrisiteit en elektriese toestelle te kan gebruik, waar sy op die plaas moes vuur maak vir warm water en ’n gas-yskas moes gebruik. Sy het al met familie in Australië ge-Skype en kan nie glo dat mens duisende myle en op ’n ander kontinent is en mekaar so duidelik kan sien en hoor nie.

Om ’n foto met ’n selfoon te neem en dit dadelik te kan sien en aflaai op ’n rekenaar, is vir haar verstommend.

Lenie het die maanlanding in haar tyd beleef, die oorgang van die millennium en die Gautrain-stasie, wat gebou is in die gebied waar sy in Rhodesfield gewoon het. Sy kon uitstekend naaldwerk doen in haar dae. As die vingers nie so vol rumatiek was en haar oë al verswak het nie, sou sy definitief nog haar tyd in Herfsland kon verwyl om naaldwerk en breiwerk te doen. Dit, en tuinmaak met blomplante en groente, was Lenie se geliefde tydverdrywe.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version