Editor's choiceLocal newsNews

Oues van dae kry tweede kans op liefde op hul rype ouderdom

Tussen die twee van hulle het hulle altesaam 56 kinders, kleinkinders en agterkleinkinders

TWEE Bonaeropark-inwoners, Ben (80) en Lenie (75) Liebenberg, het na 26 jaar van buurman en buurvrou wees weer liefde gevind en is op 28 Mei getroud.

Die egpaar het saam met familie en vriende dieselfde dag Ben se 80ste verjaarsdag by Atlas Rolbolklub gevier. Die tema was Wilde Weste.

“Ons is om 12nm, voor die partytjie, deur ds Anneline Geyer in die huwelik bevestig, sommer in haar sitkamer in Bredell met ons ‘cowboy’-pakkies aan,” vertel Ben.

Ben se vrou, Kitty, is vier jaar terug oorlede nadat hulle vir 56 jaar getroud was. Lenie se man, Gert, is drie jaar gelede dood. Lenie en Gert was vir 54 jaar getroud.

Ben en Lenie en hul eggenote het vir jare heen en weer by mekaar gekuier en, na die dood van Lenie se man en Ben se vrou, het hulle mekaar maar geselskap gehou.

DIE paartjie se trouringe.
DIE paartjie se trouringe.

“Ons het vir ‘n lang ruk by mekaar gekuier en vreeslik lekker gesels, dit het ge-eskaleer en toe het ek net besluit: hoekom moet ons alleen oud word as ons mekaar het?” het Ben gesê.

Die paartjie het na maande se uitgaan op 25 April verloof geraak en besluit om sommer te trou – ‘n maand en drie dae later.

“Die plan was om op my verjaarsdag verloof te raak, maar nadat ek die verloofring gekoop het, het ek besluit om nie langer te wag nie,” vertel Ben.

”Ons was een dag op pad huis toe van die winkel af en ek het die kar afgetrek, die ring aan haar vinger gesit en gesê kom ons trou.”

Hulle sou eers in April volgende jaar trou, maar een van Ben se skoondogters het die voorstel gemaak dat hulle sommer op sy verjaarsdag afhaak en die familie verras met die nuus.

“Dit was toe nie so ‘n groot verrassing nie, want almal het klaar geweet wat die plan was,” sê Ben.

“Ons is baie opgewonde vir hulle albei en ek kan ’n duidelike verskil sien in my pa se optrede, hy het weer ’n lus vir die lewe,” sê Ben se jongste dogter, Reona Vickers.

Die twee pasgetroudes het ongeveer 450km vanaf mekaar grootgeword, waar Ben in die Vrystaat gebly het en Lenie in Groot Marico.

Ben het in 1955 na Gauteng verhuis en woon sedert 1990 in Bonaeropark, waar hy die hoof van sekuriteit by Denel was. Hy het in 1991 afgetree.

Lenie geniet nog al haar jare as tuisteskepper.

DIE verjaarsdag- en troukoek.
DIE verjaarsdag- en troukoek.

“Ons ken mekaar al baie lank en sy gesels so lekker, ons het soveel kommunikasie tussen die twee van ons en ons geniet net elke oomblik. Sy is die liefdevolste mens wat ek ken en daar is net altyd plek vir nog iemand,” sê Ben.

Lenie het bygevoeg dat haar gunsteling kwaliteite in Ben is dat hy so hulpvaardig en liefdevol is.

“Dit is baie raar om ‘n kans op tweede liefde te kry en ek kon nie vir beter vra nie, ek is baie gelukkig,”sê Ben.

Die paartjie kuier deur die dag by Ben se huis en slaap in die aand in Lenie se woonstel. “Ons sal maar met tyd uitsorteer wie waar gaan intrek, maar vir nou is dit gerieflik om twee huise te hê,” vertel Ben.

Hy het sewe kinders, 17 kleinkinders en 16 agterkleinkinders, en Lenie het twee kinders, nege kleinkinders en vyf agterkleinkinders.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button