School sportSport

Kempie 0/15’s wen Valke-sewes

Albei krieketspanne verloor teen Dr EG Jansen

KEMPIES se 0/15 rugbyspan het die Valke se sewestoernooi gewen nadat hulle Transvalia in die finaal met 35-7 geklop het.

Die senior span het die plaatkompetisie ingepalm deur Jeugland te klop.

Dié jaarlikse toernooi om die 0/15 en 0/17 kampioene vir die Valke Rugbyunie te bepaal is die afgelope naweek by Hoërskool Hans Moore gehou.

Kempies se 0/17 span het alle teëstanders op pad na die kwartfinaal oortuigend geklop, maar het in die kwartfinaal in ‘n spannende wedstryd teen Hoërskool Die Anker vasgeval.

Hulle het hulself egter puik reggeruk om uiteindelik die plaat-eindstryd oortuigend met 31-0 teen Hoërskool Jeugland te wen.

Die 0/15 span het ‘n strawwe eerste wedstryd teen Hugenote met 31-27 gewen. Dit was ‘n pragtige wedstryd waar albei spanne positiewe rugby gespeel het.

Dit was eers in die doodsnikke wat ‘n pragtige lopie deur Heinrich Eybers die wedstryd beklink het. Na ‘n maklike oorwinning in die oorblywende poel-wedstryd teen Hans Moore B, het ‘n semi-finaal teen tradisionele rugbyvyande, Dr EG Jansen, gewag.

Die wedstryd het aan alle verwagtinge voldoen. Na ‘n baie goeie begin was EG vinnig met 14-0 voor. Die Kempies het egter pragtig teruggeveg om uiteindelik na normale speeltyd met 26-26 gelyk te eindig.

Die Noordvaalreëls bepaal dat die wenner dan op ‘n “sudden-death”-basis bepaal word. Na ‘n spannende vier addisionele minute het Ettienne Poultney die nodige afronding gedoen na ‘n pragtige beweging en Kempies se plek in die finaal teen Transvalia verseker.

Na die spannende semi-finaal, wat inderwaarheid ‘n finaal kon wees, het Kempies die finaal met pragspel oorheers om met 35-7 te seëvier.

Kempies se 0/15 verteenwoordig nou die Valke by die Noordvaal-finale wat in Oktober by Menlopark gehou word.

Die seniors het ook vir Linden met 28-26 in die Coke UJ-reeks gewen.Beide Kempies se 0/15 en eerste krieketspanne het hul ligawedstryde teen Dr EG Jansen verloor.

EG het 313/7 aangeteken waarna Kempton vir 254 uitgeboul is. JP Bloem het 4/28 lopies gevat.

Die eerstes het met ‘n skrale twee lopies verloor. EG het 155 aangeteken, waarna Kempton vir 153 uit was.

Back to top button