School sportSport

Vandag is D-dag vir Kempies se eerstes

Eerste rugbyspanne pak mekaar om 2nm op Barnardstadion in die Valke se eindstryd

‘n Rillerstryd word verwag wanneer die eerste rugbyspanne van Hoërskool Kemptonpark en Dr EG Jansen mekaar Dinsdag in die eindstryd van die Valke-liga pak.

Die wedstryd word om 2nm op Barnardstadion beslis.

Volgens Rinus de Jager, adjunk-hoof van Kempies, is die finaal van Saterdag na Dinsdag verskuif as gevolg van die SA skoleproewe wat Saterdag op Barnardstadion plaasgevind het.

“Volgens Noordvaal-beleid kan wedstryde waar skole met spelers wat na die proewe genooi is, uitgestel word mits die skole daaroor ooreenkom. EG het twee spelers wat genooi is. Ons as Kempies het in die lig van dié prestasies en in die gees van sportmangees die versoek toegestaan,” het hy gesê.

Die twee spanne speel Dinsdag die derde keer vanjaar teen mekaar. Die eerste wedstryd was ‘n wegholoorwinning vir EG. Die tweede was ‘n naelbytstryd wat letterlik in die laaste minuut deur EG beklink is (33-27).

De Jager sê die Kempies se spelpeil het sedertdien ‘n pragtige opwaartse kurwe getoon en daar heers ‘n gees van optimisme vir die finaal.

Volgens Dewald Peyper, een van die eerstespan se afrigters, is die seuns opgewonde oor die geleentheid om die bordjies in die finaal, die een wat regtig saak maak, te verhang.

Die verskuiwing van die wedstryd na Barnardstadion gee aan die hele skool die geleentheid om die span te ondersteun.

Ongeag die uitslag, beloof die wedstryd om ‘n spreekwoordelike riller te wees.

Jansies is die verdedigende kampioen van die Beeldtrofee. Hulle en Kemptonpark het verlede jaar sake in die Beeldtrofee se eindstryd uitgespook.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button