Editor's choiceNewsSchools

Jeugie-kore wen oorsee

Die Jeugies se gees het uitgestraal toe hulle in Florance op die sypaadjies gesing het

JEUGLAND se meisie en gemengde kore het albei toekennings op hul oorsese toer gedurende die skoolvakansie verower.

Op 30 Junie het 91 Jeugies na Italië en Frankryk vertrek waar hulle aan die Eterna Sacra a Roma-kompetisie in Rome deelgeneem het.

Die toer het afgeskop in Milan waar die koor aan twee konserte deelgeneem het. Een was in Merate en die ander in Manteveccia.

Die Jeugies se gees het uitgestraal in Florance toe hulle met sang op die sypaadjies die mense gemotiveer en geïnspireer het. Voetgangers, motoriste en besigheidseienaars het met glimlagte na die Jeugies geluister.

Met die deelname aan die Eterna Sacra a Roma-kompetisie het die meisiekoor ’n silwer VIII in die o-21 kategorie verower en die gemende koor het goud in die gospelafdeling verwerf.

Die Jeugies het hul toer met ’n besoek aan Euro Disney afgesluit en ook geskiedenis gemaak toe hulle die eerste koor is wat in Euro Disney opgetree het.

Die Jeugies het op 14 Julie na Suid-Afrika teruggekeer.

Die skool se seun- en meisiekore het ook aan die ATKV-Applousuitdunne in Pretoria deelgeneem waar beide kore goud behaal het.

Die seunkoor het aan die ATKV-finaal op 4 Augustus deelgeneem. Die uitslag was nie teen druktyd beskikbaar nie.

Die seunkoor het verder aan die Sing in Harmonie-koorkompetisie op KykNet NOU deelgeneem en met die eerste hoërskoolepisode wat aangebied en opgeneem is, is hulle as die wenkoor aangewys.

Die finaal is op 23 September.

Back to top button