Editor's choiceLocal newsNews

Impie speel in nuwe Afrikaanse rolprent

Ueckermann sê hy is meer 'n komedie akteur as 'n ernstige akteur

‘n JONG akteur en Laerskool Impala-leerling, Ruanco Ueckermann (8), speel in die nuwe Afrikaanse familiekomedie, Kampterrein.

Hy het die rol van Francois Fouché vertolk, die jongste kind van Jan Fouché (Louw Venter). Hy is ook in die regte lewe die jongste van drie kinders.

“Ons het net nonsens aangejaag in die rolprent. Ons het paddas in die meisies se badkamer gegooi en ons het ‘n oom aan die toiletsitplek vasgegom. Dit was vir my baie lekker om hierdie rol te speel,” lag klein Ruanco.

Die rolprent gaan oor tipiese vakansie-chaos, in ’n tipiese vakansie-oord vir families. Wanneer Jan Fouché en sy gesin by die oord opdaag, sien hulle tot hul ontsteltenis dat die karavaanstaanplek waar hulle elke jaar staan, deur die Khumalo’s beset is. Die onderonsie tussen die twee gesinne, terwyl hulle oor die staanplek onderhandel, is deur die ATKV as skreeusnaaks beskryf.

Ruanco het vir die oudisie gegaan deur sy dramaskool. Hulle het vir ‘n maand aan die rolprent geskiet. “Dit was so lekker om vir ‘n maand nie by die skool te gewees het nie,” vertel hy laggend.

Hy is glad nie vreemd in die dramawêreld of op die verhoog nie en het al op die ouderdom van drie met kunswedstryd begin.

Hy is ‘n top dramastudent by sy dramaskool en het vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste deel te neem waar hy 25 dramastukke gaan opvoer.

Ruanco Ueckermann (8).

“Ek is mal oor drama en as ek eendag groot is, gaan ek nog ver in my lewe kom met my drama. Ek hou daarvan om te lag en simpel te wees, so ek sal baie graag in komedies wil speel,” sê hy.

Een van sy gunstelingakteurs is die Amerikaanse komediant, Kevin Hart.

“Hy was eintlik ‘n baie skaam seun tot ons hom vir dramalesse gestuur het. Nou is hy die mees uitgaande en gelukkigste kind en hy maak ons daagliks lag met die goed wat hy kwytraak. Hy werk ook verskriklik hard vir ‘n agtjarige en ons is trots op hom,” sê sy ma, Alet.

Buiten drama het hy ook ‘n groot liefde vir rugby en krieket en sy plan B is om ‘n professionele krieketspeler te word.

 

Back to top button