School sportSport

AKSIEFOTO’S: Kempies troef Jeugland in derby

Op die veld is geen genade gegee of gevra nie

NIE eens die nat, koue weer kon die entoesiasme van etlike duisende toeskouers by die jaarlikse derby tussen Kempies en Jeugland Saterdag demp nie.

Die tafel vir die eerstespanstryd is gedek met Kempies se junior spanne wat telkens die botoon gevoer het.

Die eerstespanstryd is deur ’n program voorafgegaan wat die sestigjarige bestaansjaar van Kempies gedenk het. Dit het die nodige luister aan die reeds mooi geleentheid verleen.

Aksiefoto’s van die eerste rugbyspanne

Op die veld is geen genade gegee of gevra nie. Die weer kan die skuld kry vir die hanteerfoute aan albei kante. Uiteindelik was dit die Kempies se verdediging en die uitmuntende spel van hul Cravenweekspeler en losskakel, Francois Erasmus, wat die verskil gemaak het. Francois het die spel in die nat weer briljant beheer en het daarin geslaag om sy voorspelers op die voorvoet te hou.

Die eindtelling was uiteindelik 22-7 in die Kempies se guns, maar albei spanne kan tevrede voel met hul spel in moeilike omstandighede.

Die Kempies se punte het bestaan uit drieë deur Eward Steyn, Jeandré Breytenbach en Lee Enslin met Erasmus wat met twee doelskoppe en ’n strafdoel geslaag het.

Die ander rugby-uitslae was: O/14A wen 22-0, O/14B verloor 17-28, O/15A wen 10-8, O/15B verloor 7-19, O/16A wen 36-0, O/16B wen 57-0, derdes wen 48-0 en tweedes wen 22-0.

Aksiefoto’s van die eerste hokkiespanne

Meisiehokkie: O/14A wen 1-0, O/14B speel gelykop 0-0, O/15A verloor 0-1, O/15B speel gelykop 0-0, O/16A speel gelykop 0-0, O/16B verloor 0-2, tweedes verloor 1-3 en eerstes speel gelykop 1-1.

Tennis: Seuns: Kempton A wen Jeugland A 52-20 en Kempton C klop Jeugland C 38-18.

Meisies: Kempton A verloor teen Jeugland A 27-45, Kempton B wen Jeugland B 51-5 en Kempton C speel gelykop teen Jeugland C 28 elk.

Skaak: O/15A wen 5-1 en O/18A wen 4½ – 1½.

 

 

Back to top button