Hoërskool Jeugland se rugbyspanne was onder die top agt uit 16 skole wat vanjaar aan die NWU Puk-reeks deelgeneem het.
Daarbenewens het drie van die 10 spanne die trofee gewen.
Die o-14B span het met 19 elk gelykop teen Hoërskool Montana gespeel en deel die trofee. Die twee spanne het geen genade op die veld gewys nie. Die telling was tot die einde na aanmekaar. Montana kon pale toe skop om die beker te deel.
Die derde span het teen Hoërskool Noordheuwel te staan gekom en met 27-22 van die veld gestap. Dit was ’n eindstryd wat eerste spanne sou laat regop sit.
Die Jeugies het vroeg hul stempel op die manne van Krugersdorp afgedwing. Met ’n paar hanteringsfoute het Jeugland vir Noordheuwel in die wedstryd gehou, maar die Jeugies was net te sterk.
Die tweede span het in die finaal ook teen Noordheuwel te staan gekom en naelskraap met 26-24 gewen. Met beide spanne wat onoorwonne in die reeks was, het ’n harde stryd voorgelê. Noordheuwel het vinnig weggespring en binne 10 minute met 14-0 voorgeloop.
Jeugland het kop gehou en nooit gaan lê nie. Hulle het begin momentum optel en daarna was daar geen keer aan hulle nie.
Die eerste span het vir die derde en vierde plek teen Hoërskool Middelburg uitgespeel, waar die Jeugies in die doodsnikke met 26-19 die knie moes buig.
You can read the full story on our App. Download it here.