LettersOpinion

Hierdie nuwe vullishouers gaan nie werk

‘Ek dink dis weer 'n gekonkel net sodat sekere raadslede en amptenare wat die idiotiese besluit geneem het 'n lekker ‘kickback’ kan kry’

LOUIS VAN BIRCH ACRES skryf:

Ek dink dit is ‘n idiotiese besluit van die munisipale owerheid om die gebruik van die ‘wheelie bins’ verpligtend te maak.

In Amerikaanse stede wat van dit gebruik maak, word die houers op die kant van die pad se ryvlak gesit en die drywer gebruik dan die vragmotor se robotarm om elkeen op te tel en die inhoud in die vragbak uit te gooi en dit dan weer neer te sit.

Ek kan nie sien dat dit hier sal gebeur nie want die houers sal op die sypaadjies geparkeer word en arbeiders sal nog steeds dit tot langs die vragmotor moet stoot om te werk. Die ANC wil graag soveel as moontlik werk skep en dus sien ek hierdie net as onnodige uitgawes.

Also read:

Wheelie bins: everything you should know

Die swartsakke werk mos goed. Dis weer die geval van as dit nie werk nie, los dit en as dit werk, moet daaraan gekarring en verander word.

Ek dink dis weer ‘n gekonkel net sodat sekere raadslede en amptenare wat die idiotiese besluit geneem het ‘n lekker ‘kickback’ van die verskaffers kan kry. Weet Kempton Express wie het hierdie besluit gemaak?

Die instruksie dat mense die nuwe houers so gou as moontlik na leegmaak van die sypaadjies moet verwyder – besef hulle nie dat meeste mense heeldag werk en eers laatmiddag weer terug by die huis kom nie?

Gaan die metro polisie die strate van betrokke voorstede op opteldag patrolleer om toe te sien dat die houers nie gesteel word nie? Ek glo nie. Ek het nog nooit in al die jare wat ek hier woon ‘n metro polisievoertuig in my gebied waargeneem nie.

Die ‘wheelie bin’ gaan nie in my garage of kombuis pas nie, so ek sal dit buite my agterdeur moet los. Ek het al deur die jare verskeie tuinslange en ‘n groot rubberasblik, wat buite my agterdeur gelos was, weens diefstal verloor. Selfs buite-waterkrane se koppe is al afgesteel, asook my swembad se elektriese pomp. En ek het ‘n sesvoet muur reg rondom my eiendom.

Back to top button