School sportSport

Impie goël met die bal by vakansietoernooi

Die jong Johan het nege paaltjies in een wedstryd laat kantel

’n 13-jarige krieketspeler van Glen Marais kon sy oë nie glo nie toe hy die afgelope skoolvakansie ’n krieketspan so te sê by homself uitgeboul het nie.

Johan Kruger, lid van Laerskool Impala se eerste span, het slegs 21 balle nodig gehad om nege van Pietersburg-Suid se manne terug in die pawiljoen te kry.

Dié nege paaltjies sluit ook ’n driekuns vir sy laaste drie paaltjies in. Johan het slegs ses lopies afgestaan.

Hy het vyf spelers geboul en vier is gevang.

Hy is na afloop van die toernooi, wat van 3-6 Julie by Konka plaasgevind het, as bouler van die toernooi aangewys nadat hy altesaam 15 paaltjies gevat het.

Dié kranige hotkloukolwer, wat regs boul, het as agtjarige met die sport kennis gemaak. Hy is ’n medium-snelbouler en ook ’n goeie kolwer met ’n fyn oog vir die bal.

En wie is sy rolmodel in krieket? Niemand anders as AB de Villiers nie, as gevolg van “hoe hy krieket dink”.

Johan, tans onderhoofseun akademie by die Impies en vleuel vir die eerste rugbyspan, hoop om eendag krieket sy loopbaan te maak.

En op die vraag watter van sy nege paaltjies die vakansie was die lekkerste? Sy driekuns, natuurlik!

Back to top button