EHS-kultuuraand bied iets vir elke kultuurliefhebber

Hoërskool Ermelo se kultuuraand het die gehoor vermaak met verskeie items.

ERMELO – Hoërskool Ermelo se kultuurliefhebbers het op 28 Julie die eerste kultuuraand aangebied, en dit was ’n toonbeeld van die sukses wat EHS op kulturele gebied geniet.

Die kultuurvoorsitters, Aloné Arnoldi en Walter van der Walt, het die aand geopen, waarna die senior marimbagroep, onder leiding van Phila Dladla, eerste opgetree het.

’n Onvoorbereide debat tussen twee spanne het leerders onvertroud daarmee ’n voorsmakie gegee van wat dit behels. Alhoewel dit informeel was, was die debatsgesprek vurig maar pret.

Lizanne Dippenaar, die debat se organiseerder, het as voorsitter leiding geneem.

Isabelle Moussier, Bea Niemand en JF Möller tydens die debat. Foto | EHS

EHS se ensemblegroep het die gehoor met melodieuse klanke bekoor, met Dladla aan die stuur.

Die groot opgewondenheid van die aand was EHS se drie toneelstukke, opgevoer ter voorbereiding vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie.

Die eerste stuk, “Streng geheim”, se regie word behartig deur Lourie du Plooy en Ruben Fouché.

Tieners wat as geheime agente optree om Suid-Afrika van ’n toerismeaanval te red, staar menige uitdagings in die gesig. Die grootste daarvan is om hul eie identiteite streng geheim te hou.

Die stuk se vele komiese gedeeltes het die gehoor laat skaterlag.

Zané du Plessis, Johan Strauss en Mienke Cloete tydens die debat. Foto | EHS

“Streng geheim” is gevolg deur “Al wat ek wil hê” met Zara Büchling as regisseur.

Dié komedie handel oor ’n meisie wat haar vorige kêrel om die bos lei nadat hy as gevolg van ’n rugbybesering aan geheueverlies ly. Haar planne en maniere om hom die “perfekte” kêrel te maak, het die gehoor behoorlik aan die lag gehad.

Die aand is afgesluit deur “kameR-5”, afgerig deur Marli Murray en Mariaan Rust.

Hierdie is ’n fiktiewe sielkundige riller wat afspeel in 2050. ’n Psigiater bevind haarself in ’n sielkundige inrigting om van die pasiënte profiele saam te stel.

Sy weet egter nie dat die artificial intelligence haar misbruik vir ’n baie spesifieke doel nie. Geheimsinnig, onvoorspelbaar en boeiend som die stuk op.

EHS het Lourens Luyt vir die video-opname van die aand en Anton Esterhuizen vir die foto’s bedank.

Related Articles

Back to top button