Ligbron-rugbyspanne op dreef

Die Liggies, wat tans goed op dreef is, kom môre (Saterdag) teen Hoërskool Volksrust in die halfeindstryd te staan.

Rugbyspanne wen vyf
Agt rugbyspanne van Ligbron Akademie vir Tegnologie het wedstryde in die Puma Grootskole Rugbyliga op hulle tuisvelde gespeel en vyf van die spanne het oorwinnings behaal.
Die A-spanne se kwarteindstryd en B-spanne se halfeindstryde is Saterdag in Ermelo gespeel. Al die wedstryde is in winderige toestande beslis wat sake vir al die spanne bemoeilik het.
Die derde en 0/15B-span het deurgedring na die eindstryd wat môre (Saterdag) plaasvind. Die 0/15A-, 0/16A- asook die eerste span het na die halfeindwedstryde deurgedring.
Die John Wright Veneers eerste span het sy kwarteindwedstryd teen Hoërskool Oosterland met 25 – 0 gewen in ’n kragmeting wat by tye nie behoorlik aan die gang kon kom nie. Die sterk wind het gesorg vir heelwat hanteerfoute, maar Ligbron het egter munt geslaan uit die geleenthede wat na sy kant gekom het en met aanskoulike hardloop-rugby vier drieë, ’n skepskop en ’n doelskop aangeteken.
Die Liggies, wat tans goed op dreef is, kom môre (Saterdag) teen Hoërskool Volksrust in die halfeindstryd te staan.
Die 0/15A’s en 0/16A’s speel die hele seisoen aanskoulike rugby en het Saterdag nie teleurgestel nie. Albei spanne het hul wedstryde met onderskeidelik 55 – 5 en 30 – 6 gewen. Die 0/14A’s het in die laaste minute van hulle wedstryd teen Piet Retief met die telling op 31 – 35 die geleentheid verbrou om nog punte aan te teken en die wedstryd in hul guns te beklink. ’n Drie is weens ’n tegniese fout ná ’n strafskop nie toegeken nie.
Saterdag se tellings (Ligbron eerste) was soos volg: eerste span 25 – 0 vs Oosterland; derde span 22 – 0 vs Genl Hertzog; 0/16A 30 – 6 vs Genl Hertzog; 0/16B 10 – 17 vs Piet Retief; 0/15A 55 – 5 vs Rob Ferreira; 0/15B 25 – 5 vs Secunda; 0/14A 31 – 35 vs Piet Retief en 0/14B 10 – 14 vs Secunda.
Twee hokkiespanne klop gunstelinge
Die top 10 spanne van Mpumalanga het Saterdag aan uitspeelwedstryde op Volksrust deelgeneem.
Ligbron se 0/14A-span het in die eerste wedstryd om 07:00 in bitter koue die gunstelinge, Hoërskool Ermelo, met 2 – 1 geklop. In hulle tweede wedstryd het die span teen Uplands te staan gekom en 3 – 1 gewen.
Die 0/16A-span het ook albei hul wedstryde gewen. Hulle het eerstens vir Kanonkop met 1 – 0 geklop en daarna oor die gunstelinge, Hoërskool Volksrust, 1 – 0 geseëvier.
Albei dié spanne speel eerskomende Saterdag in verdere uitspeelwedstryde by Hoërskool Rob Ferreira op Nelspruit.

Related Articles

Back to top button