Erries-eerste span beleef sy eie “Rumble in the Jungle”

Ermelo klop Brandwag eindelik 31-27

Hoërskool Ermelo het die afgelope naweek gasheer vir die Noordvaal-uitspele, wat kookwaterrugby opgelewer het, gespeel.

Die eerste span van Ermelo het tydens hul kragmeting met Hoërskool Brandwag gewys wat deursettingsvermoë en terugveggees werklik beteken.

Brandwag het van meet af aan intens gespeel, soveel só dat hulle binne die openingsminute van die wedstryd twee vinnige drieë aangeteken het.

Vanuit ‘n toeskouersoogpunt het dit gelyk of dit ‘n lang dag vir die Erries gaan wees, maar dié seuns het ‘n troefkaart gehad wat hulle later sou gebruik.

Besigtig die aksiefoto’s van die onderskeie Ermelo-spanne hieronder: (Foto’s | © Wayne van der Walt)

“Rumble in the Jungle”

Vir baie sou hierdie kragmeting herinneringe oproep aan die legendariese geveg tydens die “Rumble in the Jungle” tussen Muhammad Ali en George Foreman in 1974, waar Ali deur sy bekende rope-a-dope-strategie die sterkman moeg gemaak en later eventueel planke toe sou stuur.

Soortgelyk het die Erries die aanslag van Brandwag, wat die eerste helfte die wedstryd gedomineer het, geabsorbeer, en in die tweede helfte die wind gebruik en Brandwag se swak dissipline uitgebuit.

Carel Jacobsz het verseker dat verskeie strafskoppe in die tweede helfte oor die pale geseil het.

Met etlike minute se speeltyd oor en die wedstryd wat steeds in die weegskaal gehang het, is nog ‘n strafskop deur Brandwag afgestaan.

Ná ‘n vorige mislukte strafskoppoging deur Jacobsz wat die paal getref het, het hulle besluit om eerder dié keer lyn toe te gaan.

Hoewel verskeie toeskouers dalk hierdie besluit sou bevraagteken, het Ermelo munt daaruit geslaan en ‘n drie in die hoekie gaan druk om die wen te verseker.

Die eindtelling was 31-27 in Hoërskool Ermelo se guns.

Maak seker om jou kopie van die Hoëvelder te kry om die volledige wedstrydverslae te lees.

Exit mobile version