Local sport

Ermelo Rugbyklub beoog om Krielsaders te tem

Die eerste span se wedstryd om 15:30 sal deur die tweedes se kragmeting om 14:00 voorafgegaan word.

Die spanning bou op vir eerskomende naweek se tweestryd tussen Ermelo Rugbyklub en die manne van die Krielsaders.

Hierdie wedstryd beloof om weliswaar ’n naelbyter te wees, veral na die vorige kragmeting op Kriel toe die Krielsaders in die doodsnikke ’n strafskop deur die pale gejaag het om die wedstryd met 29-30 te beklink.

Ermelo geniet egter hierdie ronde tuisvoordeel, maar sal moet diep grawe om die onoorwonne span van Kriel te laat les opsê.

Dusver het die Krielsaders gewys dat hulle die span in vanjaar se Hoëveld Burgemeesterliga is om te klop, hoewel Ermelo blyk die span te wees wat dalk hulle perfekte ligasyfers kan omvergooi.

Met die verloop van die seisoen was daar ’n duidelike opwaartse trajek vir die Ermelo-span in terme van fiksheid en goeie samespel.

Die huidige puntestand lyk só.

Ermelo sal egter ietwat bekommerd wees oor ’n paar sleutelspelers wat tans op die krukkelys is, naamlik Leon du Preez, Zevey Geel en Luigi Cirigliano.

Cirigliano het in verskeie wedstryde met goeie breekslae uitgeblink. Sy vermoë om spelers in te trek en die bal in kontak uit te gee, is een van die span se grootste aanvalselemente.

Du Preez, daarenteen, is sterk in kontak en het die skopwerk pale toe ook behartig. Hy word deur ’n ewe vaardige Diean Swart vervang wat tot dusver skitterend ingeskakel het.

Daarbenewens is een van Ermelo se mees ervare spelers, Geel, met 168 wedstryde agter sy naam, óók beseer. Dié word deur Charl Hunt vervang.

Hoëvelder het met Nicholaas Lauwrens, die spankaptein, gesels. Hy sê: “Ons voel baie confident vir die naweek. Ek glo ons voorry gaan hulle stamp. Hierdie keer gaan ons niks terughou nie.”

Volgens hom het hulle die afgelope paar wedstryde mekaar begin vind en hy sien nie dat Krielsaders bo gaan uitkom as Ermelo by hul wedstrydplan hou nie.

Die hoofafrigter, Nicky van der Walt, sê daar is baie gefokus op die verdedigingslyne, veral om as ’n span te press defend.

“In ons laaste ontmoeting met Kriel het ons baie drieë teen hulle aangeteken, maar ook net soveel afgestaan. Ons wil dus hierdie keer seker maak dat dit nie weer só maklik gebeur nie.”

Volgens Cirigliano glo hy dat die wedstryd by die vaste fassette gewen of verloor gaan word en dat die span met die beste verdediging op die dag sal seëvier.

“Ons en Kriel is bekend in die liga vir ons goeie aanvallende spel en ons het albei al baie hoë tellings in wedstryde behaal. Hierdie naweek is dit egter ons taak om by ons strukture te hou en ons verdediging reg te struktureer sodat hulle nie ’n geleentheid kry om deur te breek nie.”

Die eerste span se wedstryd (15:30) sal voorafgegaan word deur die tweede span se wedstryd (14:00).

Van der Walt het ondersteuners gevra om in groot getalle die manne by Laerskool Ermelo se sportgronde te gaan ondersteun.

Related Articles

Back to top button